www.jip.co.za

’n Nuwe lys vir die reis

Toe ek in standerd agt (gr. 10) was, het ek eendag agter in my Engelse boek 'n lys gemaak.

Die lys het slegs dinge bevat wat ek nog graag in my lewe wou doen. Dit was jare voordat Jack Nicholson se Bucket List-fliek uitgereik is, maar die gedagte was min of meer dieselfde.

Ek het 64 goed onder mekaar geskryf wat ek wou doen of bereik voordat ek die emmer skop. Langs elke ding het ek 'n blokkie getrek sodat ek dit kon af-tick sodra ek dit gedoen het.

Toe die klok lui, het ek die boek toegemaak en dit nege jaar lank vergeet.

Ek grawe onlangs weer hierdie einste Engelse boek van my uit op soek na vreemde ou klere om na AfrikaBurn aan te trek. Uit nuuskierigheid blaai ek my ou boek deur en is ek verras toe ek die lys kry. Ná al die jare staar die leë blokkies beskuldigend vir my. Om die lys deur te werk, kos moed. Dis basies die ou ek wat die nuwe ek onder vier oë spreek. As ek hierdie toets druip, sal ek die res van my dae spieëls moet vermy. Wie wil elke dag in die oë van 'n lafaard staar?

Met 'n stomp potlood as my enigste wapen aanvaar ek die uitdaging.

Ná 'n paar minute sluit ek die kortste en suksesvolste toets van my lewe af. 63 uit 64. Dis 98,44 persent. Vir die eerste keer voel ek beter oor al die jare se slegte punte. As ek ruimte gelaat het vir bonuspunte, sou ek nog beter gevaar het. Uit die 64 dinge het ek net nie " 'n vuisgeveg gewen" nie. Ek is seker die 16-jarige ek sal die pasifistiese 24-jarige daarvoor vergewe.

Die res sluit in: "skryf 'n liedjie", "slaag matriek", "ry op 'n olifant", "gaan op 'n rock & roll-toer", "kom op die televisie", "gaan universiteit toe", "maak 'n musiekvideo", "vry met 'n mooi meisie(s)", "spring by Dreunkrans af", "groei dreadlocks", "spandeer 'n hele dag kaal" en nog baie ander. Sommiges sal sê ek het 'n bietjie laag gemik, maar die punt is: Dit het MY gelukkig gemaak en MY lewe verryk.

Die lekker ding is dat ek nie eens met aandag hierdie goed gejaag het nie.

Blykbaar het my onderbewussyn 'n fotografiese geheue. Dit was genoeg dat hy daardie lys net een keer gesien het, en van daar het hy my stilletjies op koers gehou. Baie daarvan het per ongeluk of spontaan gebeur, soos toe ek saam met dolfyne geswem het.

Langs die pad het ek sommer ook geleer skaatsplank ry, sokker speel en avokado's eet.

Met dit alles agter die rug is dit nou tyd vir 'n nuwe lys.

En so onmoontlik soos dit in 2001 gevoel het om eendag op die televisie te wees, so onmoontlik lyk dit nou om my eie lugballon te besit, 'n boek te skryf en ruimte toe te gaan.

Ons praat weer oor nege jaar.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.