www.jip.co.za

Wie’t gesê jy swem net as die son skyn?

Daar is niks soos 'n eerste keer nie. Eerste vry, eerste kar, eerste werk, eerste paycheck. En natuurlik jou eerste - en enigste - keer dat jy eiers op die bure se dak gegooi het.

Vandag oor 'n week vertrek ek op my heel eerste reis na die buiteland. Kyk, ek was al in Namibië (wat na my mening nie eintlik tel nie). En ek twyfel of my studentebesoek aan Robbeneiland vir hierdie gesprek sterk staan.

Maar nee, hierdie keer gaan ek wragtig na 'n land waarvoor ek 'n inspuiting sal moet kry, nuwe slaapklere en 'n tandeborsel sal moet gaan koop (ek ken mos my ma) en 'n hele paar uur gedwing sal wees om sonder 'n sigaret aan die lewe te bly.
Vra gou waarheen. Nee, regtig, vra. Goed, as jy jou dan nou so dik hou. Ek gaan Mauritius toe. Die woord brand sommer hier in my mond.

Hoewel ek nou met 'n glimlag op my bakkies sit en 'n tjoen van "we're all going on a summer holiday" sing, wonder ek tog oor 'n paar dinge.

Dis die onbekende wat my inwag. Gaan dit wees soos in die movies, met bruingebrande girls wat jou inwag met skemerkelkies, 'n hotelkamer so groot soos 'n skoolsaal en 'n bed om op te spring?

Veral twee gedagtes staan in my kop uit:

Die eerste een is natuurlik die B-woord. Bikini (wat ek anyway seker is sal verdwyn tussen my tjoep). Is daar 'n middel op die mark wat my binne 'n week 'n nommer 6-lyfie sal gee? Nie dat ek ooit dit in 'n bikini sou waag nie, maar 'n mens moet sekerlik mos nie heeldag op die strand in jou broek sit en weier om water toe te gaan nie. A nee a.

Die tweede ding. As jy enkellopend is soos die uwe, hoop en bid jy vir daardie een gelukkige 25-jarige en hoogs intelligente barman wat jy daar sal ontmoet. Dié idee van 'n kortstondige romanse met 'n onbekende het veral in my kop begin ronddans ná 'n onlangse gesprek met 'n vriendin.

So twee jaar gelede het sy hom - kom ons noem hom "Nathi" - ontmoet. Dié het sy ewige liefde verklaar terwyl hy met sy kop teen haar hotelkamerdeurkosyn leun. "I love, you. Don't you understand? Things will never be the same again. This is Zanzibar."

Dit nou nadat die twee wêreldbestemmings in die sand vir mekaar geteken het en in die turkooisblou see van Nungwi in Zanzibar gebaljaar het in die middel van die nag. Hy het haar in die water opgetel en gesê: " You're so light . . . in the water. "

En daar het hy saggies in haar oor gefluister van sy meisie wat dit nooit sou verneem nie. Dié dat sy die houtdeur kliphard in sy gesig (al leunend teen daai kosyn) toegeklap het.

Daar sál 'n "Nathi" wees, verseker Vriendin my later die aand. "Jou Nathi sal . . ."

Maar dit pla my toe later die nag. Hoe gemaak met die B-probleem sou daar 'n Nathi wees?

En meteens sit ek regop in my bed. Ek het dit! Die oplossing vir my bikiniprobleem: swem in die nag.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.