www.jip.co.za

'Wat as' jy met die X-faktor sou leef

Wie die "oumense" nou eintlik is, weet ek nie, want tot my ouma verwys nog na hierdie mistieke generasie wat van wysheid oorgeloop het.

Nietemin, dit was die einste oumense wat na verhaling gesê het: "My kjeend, as is verbrande hout, my kjeend."
Ek het met geaste hout g'n probleem nie, want iewers langs die pad het dit 'n skaaptjoppie gaargemaak.
Maar sodra 'n man dié astrante bêktjêt agterlaat en jou ore spits met die bedoeling om te luister, word die oumense se wys­heid 'n onaanvegbare lewenswaarheid. En hier is hoekom.

Ek het verlede week die mediavertoning van die ESPN-rolprent X Games 3D: The Movie bygewoon. Dié dokumentêre fliek handel oor Travis Pastrana, Ricky "The G.O.A.T." Carmichael, Kyle Loza, Danny Way, Shaun White en andere wat algemeen as waaghalse geken word en wat deurentyd adrenaliensporte bevorder, herdefinieer en van enige statiese status weerhou. Dié ouens was op 'n tyd die atlete van die toekoms; vandag is hulle die status quo.

Way het byvoorbeeld al met sy skaatsplank oor die Chinese Muur gespring. Dit is wêreldwyd bemark, maar die dag voor die amptelike sprong het hy sy enkel in 'n oefen­po­ging gebreek.

Steeds het Way die volgende dag dit wat hy die wêreld belowe het, gedoen - iets buitengewoon maar moontlik.
Hoewel hierdie 3D-vertoonde fliek 'n visuele belewenis is, het ek agterna gewens dat ek 'n boekie saamgevat het om die lewensfilosofieë van dié alternatiewe sportlui neer te pen.

Die ouens is nie kranksinnig nie - hulle leef immers nog! Hulle het wel 'n sielkundige gehardheid-cum-intelligensie wat tot die preutsste ou tannie se bewondering verdien.

"Ons dink anders oor ‘wat-as-vrae'. Ons vra byvoorbeeld nie ‘wat as' ons 'n sekere jump probeer het nie, maar ‘wat as' ons dit inderwaarheid regkry," was Pastrana se woorde terwyl hy homself en sy waagkamerade beskryf het.
Loza sluit só by hom aan: "In ons pogings om die sporte te ontwikkel, beter te maak, val ons maklik 1 000 keer. Ons kry seer, ons breek goed. Maar as jy iets net een keer reggekry het, het hy dít gedoen - die sport vorentoe gevat. Dit werk in die lewe ook so."

In die rolprent Breakfast at Tiffany's bebulder ene Paul vir Holly oor haar onwilligheid om haar hart op die spel te plaas: "Aanvaar dat die lewe 'n feit is." En dit is so. Die lewe kom en gaan, of jy dit aangryp of nie, of jy die regte "wat-as-vrae" stel of nie.

In die lig hiervan het Pastrana gesê: "Waarom sal ek 'n A-simbool vir geskiedenis wil hê as ek 'n X kan kry?"


travis


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.