www.jip.co.za

Vrystaat vanjaar bo op

Nadat die Vrystaat-span in 2008 en 2009 vol groot belofte oor die laaste hekkie op die Cravenweek gestruikel het, het die klas van 2010 gewys dat individuele sterre dalk wedstryde wen, maar dat dit spanne is wat toernooie wen.

Dit was ook een van dié span se leuses vir die 47ste Cravenweek, wat hier in die Noordwes-stadion plaasgevind het. Die Vrystaat is vir die eerste keer sedert 2007 as die nie-amptelike kampioen van die toernooi gekroon.

Hy het die Westelike Provinsie, wat ongetwyfeld vooraf die gunsteling was, oortuigend met 42-21 geklop. Vrystaat het ook, net soos die 2009-span, ses nasionale skole-spelers opgelewer.

Al ses manne - William Small-Smith (kaptein en senter), Paul Jordaan (senter), Johan Goosen (losskakel), Kevin Luiters (skrumskakel), Neethling Fouché (stut) en Anrich Bitzi (haker) - is van Grey-kollege, wat die 1981- en 2009-rekord vir die meeste spelers van 'n skool in die span ewenaar.

Die kombinasie van Goosen, Jordaan en Small-Smith langs mekaar was uitstaande.
Dit is jammer dié drie sal nie volgende jaar steeds langs mekaar vir dieselfde span diens doen nie, maar dalk kan hulle in die nabye toekoms weer so 'n geleentheid kry.

Die rol van Luiters agter die oond kan ook nie geringgeskat word nie. Hy het die trio met sy flinke diens die vryheid gegee om hulle talente ten toon te stel.
Die Vrystaat het in sy eerste wedstryd teen Grens gewys dat hy nie ligtelik opgeneem moet word nie, met 'n oorwinning van 35-13 oor 'n span wat twee SA skole-spelers van verlede jaar in sy geledere gehad het.

Teen KwaZulu-Natal het die span gesukkel, maar nogtans het dit nooit gevoel of hulle die wedstryd sou verloor nie. Die voorspelers van die Vrystaat wat vanjaar al heelwat kritiek ontvang het, verdien elkeen 'n klop op die skouer, maar die inklimspel van Cobus Nel (slot), Henco Greyling en Heinrich Douglas (albei flanke) verdien eervolle vermelding.

Beste oomblik: Die drie van Paul Jordaan in die hoofwedstryd was nie net 'n keerpunt in die kragmeting nie. Dit was 'n drie waaroor nog jare gepraat gaan word. Hy het die bal ontvang met drie WP-spelers voor hom, en het hulle met krag, breinkrag en vaart uitoorlê om een van die beste drieë in die geskiedenis van die Cravenweek te gaan druk.
Beste voorspeler: Cobus Nel.
Beste agterspelers: Johan ­Goosen en Paul Jordaan.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.