The Ricky Gervais Show is die snaaksste en interessantste podcast-geselsprogram wat ek nóg ontdek het.
Dit word aangebied deur die Britse komediant, skrywer en akteur Ricky Gervais (onlangs was hy die aanbieder van die Golden Globes) en Stephen Merchant, Gervais se vriend en medeskrywer van en akteur in The Office en Extras.
Elke podcast-episode handel oor 'n akademiese vakgebied soos filosofie, sielkunde, kuns, geskiedenis, natuurstudie of geneeskunde - maar moenie dink dis vervelig nie! Dié ernstige temas word op 'n skreeusnaakse manier bespreek en maak dit vir almal toeganklik.
In die program gesels Gervais en Merchant met hul eiewyse en oningeligte vriend, Karl Pilkington. Aangesien die pittige Pilkington geen universiteitsopleiding - soos Gervais en Merchant - het nie, word daar die spot gedryf met sy siening van hoe hy dink die wêreld werk. Hy probeer nooit snaaks wees nie en wek 'n siniese, ernstige indruk.
Pilkington sal goed kwytraak soos: "Wat is 'n rob? 'n Rob is basies 'n hond, maar 'n vis. Dis 'n vishond." Oor Siamese tweelinge vra hy: "As een 'n misdadiger is en sy word tronk toe gestuur, wat gebeur dan?" Oor Kersfees vra hy: ". . . was die geskenke wat die drie konings vir Jesus gebring het vir sy verjaarsdag of vir Kersfees?"
In elke program is ook 'n deel waar Gervais en Merchant stukke uit Pilkington se dagboek voorlees wat jou sal laat rol van die lag. Trouens, Pilkington se dagboek gaan glo gepubliseer word danksy die gewildheid van hierdie voorlesings.
Al geniet Gervais en Merchant dit klaarblyklik om met Pilkington die gek te skeer, raak hulle ook geïrriteerd met hom en bars gewoonlik 'n stryery uit wat vir nóg amusante konsternasie sorg.
As jy keelvol raak vir musiek luister op die langpad, sal ek dié podcast aanbeveel. Laai dit hier af.