Die Vrystaat se o.18-span kan môre hier nes sy rugbyboeties maak wanneer hy die Westelike Provinsie in die nie-amptelike eindstryd van die Cravenweek-toernooi pak.
Indien die Jong Cheetahs 'n sterk WP-span kan troef, sal dit 'n driekuns aan nasionale titels vir die Vrystaters besorg nadat hul o.19- en o.21-spanne in 2009 as kampioene gekroon is.
'n Vrystaat-span sonder verskeie beseerde sterre speel môre hier, ná gister se sege van 30-20 oor KwaZulu-Natal en Dinsdag se oorwinning oor Grens (35-13), vir 'n vierde agtereenvolgende jaar in die hoofwedstryd.
Die afwesigheid van beseerde sterre soos Henco Venter, Tyrone Schultz (albei flanke), Ruwellyn Isbell en Jan Serfontein (albei vleuels) het egter gister 'n duidelike leemte gelaat en voorspel moeilikheid teen 'n talentvolle span van die Westelike Provinsie.
'n Gunstige loting was vanjaar 'n groot bondgenoot vir die Vrystaters wat laas in 2007 as nie-amptelike kampioen van die Cravenweek gekroon is. Die Vrystaat het WP toe met 52-3 op Stellenbosch geklop.
Vrystaat-ondersteuners sal ná die WP-span se goeie spel vandeesweek onrustig slaap. Die WP het vandeesweek oortuigende seges oor die Leeus (20-3) en Oostelike Provinsie (58-17) behaal en is die gunsteling om as nie-amptelike kampioen gekroon te word.
Die Streeptruie het juis verlede jaar danksy 'n drie kort voor die einde van die hoofwedstryd deur Craig Barry (heelagter) met 19-17 oor die Vrystaters geseëvier.
Barry is een van die beste spelers op die week en het 'n driekuns aan drieë in sy span se sege oor OP behaal. Hy sal beslis weer 'n reuse-faktor in die hoofwedstryd wees.
Die Vrystaat se agterhoede is met Johan Goosen (losskakel), Paul Jordaan en William Small-Smith (albei senters) ewe opwindend en kan die Streeptruie laat boet vir enige ongedwonge foute.
Die WP se Cravenweek-span sal môre probeer om 'n goue vyfkuns te behaal. Die unie se spanne was aan die wenkant in SA Rugby se o.13-Cravenweek, o.13B-, Grant Khomo- en Akademie-week se hoofwedstryde vanjaar.