www.jip.co.za

Tieners en Dwelms: Is jy aan die "hoek"?

Pieter* (22, van Vredenburg) het reeds op 12-jarige ouderdom begin drink, hy rook al 7 jaar lank en gebruik die afgelope 4 jaar elke nou en dan dagga (ganja).

Hy het ook al geëksperimenteer met tik - 'n goedkoper vorm van metamfetamien wat met 'n lollie (glaspypie) gerook word, meth (metamfetamien, wat gesnuif word), coke (kokaïen wat gesnuif word), crack (kokaïen wat gerook word), ecstasy, heroïen (die high wat jy kry staan bekend as chasing the dragon), acid, magic mushrooms en salvia.

Waar het alles begin?
"Ek het in standerd 7 en 8 (graad 9 en 10) begin ganja rook en nogal erg gedrink. Drank was 'n probleem. In daardie stadium het ons in Wellington gewoon.

"Ná skool (18) is ek George­ toe, en hier het ek en buddies begin kokaïen gebruik. Aan die begin het ons dwelms by Nigeriërs gekry. Ons het net na 'n donker alley toe gery, omtrent nie eens die d ealer se gesig gesien nie en gekry wat ons nodig gehad het. Daarna raak dit makliker om 'n dealer op te spoor.
"Die pryse verskil van dealer tot deal­er en hang maar af van wat in voorraad is. Dis net soos besigheid, vraag en aanbod.

"Hoe meer jy koop, hoe goedkoper kan jy dit kry," vertel hy.

'n Handelaar het blykbaar ook altyd 'n skuil-professie. Die handelaar wat gereeld aan Pieter dwelms verskaf het, was byvoorbeeld 'n werktuigkundige en het ook 'n sjebien bedryf.

Het sy ouers geweet?
Sy ouers was nie bewus van sy dwelmgebruik nie. Sy stiefpa het later agtergekom iets is nie lekker nie en het Pieter in 2008 saam na die Mighty Men-konferensie geneem.

"Hier het ek ge-crack en myself bekeer. Ek het ook alles vir my stiefpa vertel. Eers het hy kwaad geraak en my uitgeskel, maar later het hy net geluister."

Pieter se ma weet steeds nie van sy donker verlede nie.

"Ek wil net sê ek het nie 'n probleem gehad nie, dalk bietjie met die meth, maar moes dit afskud. Mense sonder ruggraat doen dit. Ek is heeltemal bekeer, en net die Grootman kon my help. Rehab is net om nog kontakte op te bou, so daai werk nie," vertel hy.

"Dis nie maklik om op te hou nie; en nadat ek myself bekeer het, het ek weer daarna gehunker, maar ek het 'n belofte aan myself en God gemaak en van die sterk goed af weggebly."

Het hy al met die gereg te doen gehad?
Die polisie het hulle al 'n paar keer met dagga betrap en een keer ook afgetrek net nadat hulle 'n tikhuis besoek het.
Die polisie kon egter nie die tik opspoor nie, want hulle het dit in hul onderklere en in die kar weggesteek.

Dwelms se invloed:
Meth en tik is volgens Pieter 'n evil drug.
Hy kon dae nadat hy die dwelm gebruik het, nie eet of slaap nie. Dit het hom aggressief gemaak en hom net op een ding laat fokus.

"Wanneer jy down raak en jy's op dié drug, voel dit of jy wil selfmoord pleeg. Dan gebruik jy maar net weer, want dis al wat jou help om daaruit te kom.

Kokaïen, acid en magic mushrooms boost jou selfvertroue en is 'n party drug."

Pieter gebruik steeds nou en dan dagga.

"Ganja maak my liefdevol en rustig, en ek waardeer die natuur meer."

Wat kos dit?
Volgens Pieter* kos dwelms gemiddeld die volgende:
Tik: R40 per strooitjie.
Meth: R80 vir ’n kwartgram.
Coke/crack: Tussen R300 en R400 per gram (die gehalte beïnvloed gewoonlik die prys).
Ecstasy: Sowat R70 per pil.
Heroïen: Sowat R150 vir ’n halwe gram.
Acid: “Kan nie onthou nie, maar jy kry strips en liquid, en die liquid is effens duurder.”
Magic mushrooms: R120 tot R140 vir twee gram.
Salvia: R80 per gram.

Kry hier hulp:
Narcotics Anonymous (NA)
webtuiste: www.na.org.za
24 uur-hulplyn: 0 083 900 6962
Kaapstad: 0 088 130 0327
Johannesburg: 0 011 485 5248
Alkoholiste Anoniem SA (die nommer kan ook vir hulp met dwelmverslawing gebel word)
Johannesburg: 0 011 436 0116
Kaapstad: 0 021 592 5047
Durban: 0 031 301 4959
www.alcoholicsanonymous.org.za



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.