www.jip.co.za

Sukses vir K2

Die naam K2 is sinoniem met een van die hardwerkendste bands van Bloemfontein. Gereelde optredes, awesome musiek en nou ook 'n nuwe, selfgetitelde CD propvol songs wat in jou kop gaan vassteek - soos die snit "Angels".

"Ons het besluit ons wil 'n kombinasie van die tagtigs, negentigs en nuwe style op die album hê," vertel Frans, een van die groeplede. "Ons het ook besluit om die album in Engels te doen. Dis iets waarmee 'n mens internasionaal kan gaan. Ek dink ons het nou, ná vyf, ses jaar, besluit wat K2 is en ons sit dit op die album uiteen."

Die reaksie op die album was tot dusver uitstekend.

"Die album doen baie goed, en ‘Angels' ook. Ons maak in April 'n musiekvideo van dié song saam met Blixem-produksies.

"Wat lekker is, is dat ons drie skrywers in die band is wat elkeen sy eie invloede het. Niemand raak moeg vir die songs nie.

"Met elke song op die album kan iemand identifiseer. Nie net "Angels " nie, al die songs begin vlamvat by shows," vertel Frans.

Wat sal die ouens sê is hul suksesresep?

"Ek sou sê 'n goeie kombinasie van musikante en skrywers. Ons probeer nie om soos iemand anders te klink nie," sê Danie.
Frans voeg by: "Dis ook kameraderie, dis vriendskap, dis hoekom ons lekker saamwerk. Dit kom uit in ons musiek en skryfstyl."

Volgende vir die ouens is onder meer 'n kustoer; gigs in Mosselbaai, Plettenbergbaai, Knysna en George en daarna in Alberton; en dan ook in Mei 'n show saam met die Parlotones.

Vir die fans sê Leon: "Ondersteun Suid-Afrikaanse musiek. Daar is genoeg talent hier om die oorsese mark aan te durf en Suid-Afrika te verteenwoordig."



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.