Die mens is darem maar 'n snaakse ding. Nie soos "ha-ha"-snaaks nie. Net vreemd, maar ook soms snaaks, maar in hierdie geval bedoel ek vreemd.
In elk geval, ons is slawe van ons eie rituele. Sonder bevraagtekening sal ons doen wat vir ons gewys word, hoewel dit nie werklik logies is nie.
National Geographic het 'n dokumentêre program, Ape Genius, waarin wetenskaplikes kinders en ape dieselfde eksperiment laat doen. Die eksperiment behels 'n reeks optredes wat gena-aap moet word om 'n beloning in die vorm van 'n gummy bear binne-in 'n perspeksboks te kry.
Die kante van die boks moet elke keer in dieselfde volgorde getik word met 'n stok en dan is die laaste optrede om die stok by die geheime deurtjie in te druk en die gummy bear te kry.
In die eerste eksperiment is die boks ondeursigtig en die kinders en die ape se gedrag is dieselfde.
Almal doen wat vir hulle gewys word om die lekkertjie te kry. In die tweede deel van die eksperiment is die boks deurskynend en die gummy bear is duidelik sigbaar.
Dis nou hier waar dit interessant raak, want dis die mens-kinders wat alle logika opsy skuif en steeds presies die optrede na-aap in plaas van om net die deurtjie oop te maak en die lekker te vat.
Die ape gaan natuurlik dadelik vir die lekker en ignoreer heeltemal die reeks optredes wat vir hulle geleer is. Ek dink dit sê ons baie oor ons gedrag.
Die mens se drang om sosiaal aanvaar te word en gesag na te kom, override die logiese gevolgtrekking om net die blerrie lekker te vat.
Hierdie soort gedrag het natuurlik sy voor- en nadele. Dis byvoorbeeld as gevolg van hierdie gedrag wat ons nie vandag in die bos sit nie, maar van generasie tot generasie kennis kon oordra en stadig daarop verbeter.
Aan die ander kant is dit die verontagsaming van daardie ingeboude drang om huidige algemene kennis as logies te aanvaar, wat die samelewing in 'n nuwe era inlei.
Darwin, Newton, Van Gogh, die lys gaan aan en aan van mense wat op hulle dag gekritiseer is, selfs vervolg was, maar nou gesien word as pioniers.
So partykeer is dit slim om stupid te wees. Confusing, nè? Hierdie hele relaas kom as gevolg van die feit dat ek dink om begrawe te word, is 'n mors van ruimte en tyd en geld.
Persoonlik sal ek 'n sky burial wil hê. Dis waar jou liggaam op 'n krans gelos word vir die aasvoëls, natuurlik nadat die organe wat nog kan werk, vir navorsing geskenk is.
Toe sien ek vandag dit is onwettig. Vreemd.
Onlangs in New York het 'n vlugkelner genoeg gehad van 'n passasier se gekerm. Hy't die nooddeur oopgemaak, die
opblaas-glyplank grond toe gestuur, twee biere gevat en spore gemaak. Snaaks.