As rooiwyn, Jagermeister en harde swot se sweet die bloed is wat Stellenbosch se hart laat klop, dan is lewendige musiek definitief die Eikestad se stem.
Daar is soveel Suid-Afrikaanse suksesvolle en bekende musieklegendes wat hul loopbaan afgeskop het in Stellenbosch. Kunstenaars soos Anton Goosen, Randall Wicomb, Koos Kombuis, Valiant Swart, Delta Blue, Springbok Nude Girls, Billy Goat, The Led en Akkedis is maar net enkele baanbrekers wat die destydse live band-pub scene in die Bos gestig het.
Vandag is daar Fokofpolisiekar, Zinkplaat, New Holland, Die Heuwels Fantasties, Skuim en Seisoen na Somer. Daar is ook Etienne Terblanche en die Dikazzinz, Thieve, The Pretty Blue Guns, aKING, Die Einstes, Bed on Bricks, selfs ek en my eie band, Die Sunrise Toffies, wat gereeld die Bos aan die brand speel. Ek kan met eerlikheid sê dat Stellenbosch die enigste dorp in Suid-Afrika was wat gedurende die onlangse verkiesing meer plakkate van bands op die pale gehad het as politieke partye.
Volgens my is dit die beste plek in die land om jou musiekloopbaan af te skop aangesien dit jou alles bied om mee te begin. Daar is klaar duisende studente wat potensiële aanhangers kan wees. Jetline Printers kan vir jou goedkoop A1 plakkate druk. Die kampus se radiostasie, MFM, sal met liefde 'n onderhoud met jou voer. Daar is 'n handvol goeie bekostigbare klankmanne, om nie eers te praat van die vele diverse venues nie.
Die Mystic Boer is bekend daarvoor om nuwe bands 'n kans te gee en reël gereeld Battle of the Bands-kompetisies met lekker pryse op die spel. Dorpstraat Teater is ideaal vir intieme, akoestiese vertonings en as jy 'n gevestigde band mooi vra, sal hulle toelaat dat jy vir hulle open by Aandklas. Bohemia hou elke Donderdagaand groot konserte. Tollies, The Rock Room, Hidden Cellar en The Brazen Head reël ook af en toe konserte op aanvraag.
Sodra jou liedjies bekend word en jy genoeg geld gespaar het kan jy in die Banhoek Vallei net buite Stellenbosch vir jou 'n plaat gaan sny by die beroemde Sunset Recording Studios. As jou plaat potensiaal het kan jy gaan aanklop by Stellenbosch se eie platemaatskapy, De Plate Kompanjie, wat besit en bestuur word deur Bertie Coetzee en Beer Adriaanse van die plaaslike rockgroep Zinkplaat. Hulle verteenwoordig en bestuur 'n groot aantal van Stellenbosch se bands en reël ook 'n magdom nasionale konserte, toere en feeste.
Teen hierdie tyd sal jy al 'n ster wees en dan kan jy 'n groot opelugkonsert aanpak by die Klein Libertas of as jy gelukkig is kry jy die goue geleentheid om voor duisende studente by die jaarlikse Maties Jool op te tree.
Dus, as jy nie weet wat jy volgende jaar wil doen nie, jok vir jou ma'le, sê jy gaan swot en dan kom spring jy op Stellenbosch se band wagon. Wie weet, miskien word jy die volgende Koos Kombuis.