www.jip.co.za

Staan soontoe, MacGyver

WAAR kom dit alles vandaan? Toe ek my oë uitvee, is my huis oorgeneem. Hier's skaars plek vir ‘n koei.

In die stort versamel ek byvoorbeeld leë sjampoebottels. En, net soos jy nou, wonder ek wat ek daarmee gaan doen. Dit is natuurlik altyd nuttig as leesstof, maar my kennis van haarsorg-instruksies in Skandinawiese tale is nou al redelik volledig en hulle kom nie juis met iets nuuts vorendag nie. Ek kan die bottels seker gebruik om water uit te skep sou dit gebeur dat die stort verstop en ek nie die kraan toegedraai of die deur kan oopkry nie. Alles op een slag. Dan kan ek benoud 200ml water op ‘n slag oor die stortmuur gooi. Eintlik kom my versameling so mooi aan dat ek hulle sal kan opstapel en uitklim. Ek sal ook ‘n stewige vlot daarmee kan bou en met die rugborsel na veiligheid kan roei.

Dit is egter veel meer as wat ek kan sê van my uitstalling van verlepte groente en vrugte in die yskas. Ek koop byvoorbeeld blomkool; ek sou nie kon sê hoekom nie. Dan vergeet ek daarvan. Wanneer dit weer my pad kruis, gloei dit al in die donker. Wat seker nie ‘n slegte ding is as die krag afgaan en ek iets in die donker yskas moet soek nie. En as aliens ooit hier naby iewers neerstort en soek na kernafval om hul vlieënde piering weer aan die gang te kry, sal ek trots my polsende blomkool kan aanbied. Dalk nooi hulle my nog om die piering van binne te besigtig en kan ek roem verwerf as die skrywer van ‘n Koppie tee in die piering. Hiervoor sal ek die Nobelprys vir innoverende denke wen.

Dan is daar my manjifieke voorraad sleutels. Moenie dink ek verwys hier na ‘n antieke kopersleutel wat eens die deur van ‘n katedraal oopgesluit het of ‘n piepklein sleuteltjie na iemand se hart nie. Nee, hierdie is bloot miljoene gemiddelde sleutels van gemiddelde slotte - die soort waarmee jy jou kas in die koshuis sluit sodat ander mense nie jou beskuit gaps nie. Ek het ook nog die posbussleutel van ‘n woonstel waarin ek jare gelede gebly het. So, ek sou seker die huidige inwoners se pos kan deurgaan. Vir die dag wanneer ek iets anders as sjampoebottels wil lees.

Van lees gepraat: Daar is omtrent nie ‘n oppervlak in my huis waar daar nie ‘n halfgeleeste boek lê nie. Elkeen natuurlik aangevul deur ‘n leë koffiebeker. Dit het my tot die skokkende besef gebring dat ek nie meer soseer ‘n leser van boeke is as wat ek ‘n koper van boeke is nie. Dit het nou so ‘n probleem geword dat die kredietkaartmense my daagliks bel. Die briewe wat hulle stuur om my te herinner daaraan dat dié boeke nie verniet was nie, versamel ek saam met ou strokies van McDonald's en KFC.

Dít is weer ‘n versameling wat ek gebruik as inspirasie om ‘n sopraan te word. Ek neem nog nie sanglesse nie, maar werk solank aan my lyf. Ja, kan jy nou meer - op my gevorderde ouderdom het ek uiteindelik besef wat ek wil word: ‘n sopraan of ‘n ruimtevaarder. Die bepalende faktor sal wees of en wanneer die aliens hier naby iewers neerstort.

Intussen probeer ek van ‘n paar minder belangrike besittings ontslae raak. In dié stadium is my huis so vol dat ek net van buite af deur die vensters kan loer. Maar wat om weg te gooi? Sê nou net ek gooi daardie blikkie ingelegde vis uit 1996 vandag weg en môre moet ek skielik ‘n biologiese wapen optower. En ‘n mens weet nooit wanneer jy ‘n gebreekte hanger, twee pap tennisballe, ‘n toutjie met ‘n stukkie van ‘n ballon aan en ‘n stuk of 10 gebuigde kopspelde nodig het nie. Saam met daai vis kan ek dalk ‘n skaflike kleinerige sedanmotortjie aanmekaar slaan.

Moet nooit iets op sy baadjie takseer nie. Dalk kan jy iets met daai einste baadjie prakseer.

 




www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.