Die gekombineerde WPA junior & WP hoërskole-atletiekbyeenkoms, wat die naweek in die Bellville-stadion plaasgevind het, het Vrydag vroegmiddag met die intrapslag met twee WP-hoërskolerekords begin - die naweek was toe reeds belowend.
Morné Moolman (NZ & D.F. Malan) het in die o.18-spiesgooi die rekord wat hy verlede week tydens die Noordsone-byeenkoms opgestel het, met 'n pragtige afstand van 71,50 m verbeter.
Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat Morné die afgelope paar maande met 'n knaende elmboogbesering sukkel. Hiervoor is hy behandel en het hy in die laaste paar byeenkomste elke keer net een gooi gewaag.
Die ander rekord wat Vrydag verbeter is, is deur Valentina da Rocha (S&FB) in die o.18-driesprong vir meisies met 'n afstand van 11,77 m. Sy het wel 'n paar dae gelede 12,02 m behaal, maar wag nog op erkenning.
Uiteindelik is agt nuwe WP- hoërskolerekords opgestel, een is geëwenaar, en 'n WPA junior-rekord is verbeter.
Sonja van der Merwe (NZ & HS Tygerberg) het getoon sy gaan moeilik geklop word by die Wes-Kaapse hoërskolebyeenkoms wat eerskomende naweek in Dal Josafat plaasvind. Dieselfde geld die nasionale hoërskolebyeenkoms wat einde vandeesmaand in Sasolburg aangebied word.
Sy het haar eie rekord in die 400 m met 'n skitterende tyd van 54,79 s verbeter en die 200 m in 'n puik tyd van 24,29 s afgelê.
Taariq Solomons (NZ & Wes-Kaap Sportskool) het op sy welslae van verlede week voortgebou en sy o.18-400 m hekkies-rekord na 'n haas ongelooflike 52,49 s verbeter. Dit is 'n nuwe WPA junior-rekord.
Die hoogs belowende Zani Kruger (NZ & HS Bellville) het in die o.16-800 m vir meisies die rekord na 2:17,36 verbeter. Nicole Dirk het in die o.20-driesprong vir vroue 'n rekordafstand van 11,32 m behaal.
Laastens het Jorinda Coetzee (NZ & De Kuilen) Saterdag die onreg wat haar die vorige naweek by die Noordsone-byeenkoms aangedoen is, reggestel deur 'n rekord-afstand van 39,33 m in die o.20-hamergooi vir vroue te behaal.
Sy het verlede week daardie einste rekord getroef, maar die beamptes het dit nie besef nie.
Drie atlete het voorts elkeen drie items gewen. Die skitterende naelloop- en hekkiesatleet, Angus Julies (NZ & DFM), het in die o.18-ouderdomsgroep die 100 m (11,14), 200 m (22,39) en 110 m-hekkies (14,39) gewen.
Valentina da Rocha het benewens haar driesprongrekord ook die o.18-hoogspringrekord met 'n sprong van 1,70 m geëwenaar en boonop die verspring gewen. Die derde atleet wat 'n driekuns vermag het, is A. Sikhabakanjani (RCFS GUGS): o.20-vroue 1 500 m, 3 000 m en 3 000 m-hindernis.
Kyk die fotogalery hier.