Call of Duty: Modern Warfare 2
Xbox 360
Ek is nie 'n groot aanhanger van "regte wêreld"-skiettitels nie. Ek wil vreemde planete verken, monsters skiet, enorme base oorwin en superwapens gebruik - om in die een of ander vreemde land die een of ander vreemde nasie te gaan opblaas, was dus nog nooit my idee van pret nie.
Dit is nou totdat ek Modern Warfare 2 (MW2) gespeel het.
MW2 is briljant. Die vreemde ding is, ek het nie eens regtig van die eerste titel gehou nie. Dit was goed, maar as ek reg onthou, was Halo 3 ook daardie tyd uit, en jy kan sekerlik raai watter een van die twee titels my meer geïnteresseer het.
So het ek nie regtig iets om te speel nie, en ek het gehoor MW2 is só kort, ek kan dit in 'n middag klaarmaak. Dus besluit ek toe om dit te probeer.
My polse begin sommer weer sweet as ek terugdink aan die eerste keer dat ek in die middel van die chaos gegooi is. Ek weet nie of regte oorlog is soos in MW2 nie, maar as dit so is, sal ek omtrent vyf sekondes oorleef in 'n regte oorlog-situasie.
MW2 is mal! Daar is dele waar jy nie weet of jy kom of gaan nie. Mense skiet van bo af terwyl ouens voor jou granate van agter mure af op jou gooi, missiele vlieg oor jou kop, helikopters waai stof oral, en tussendeur probeer jy luister wat jou leier vir jou sê sodat jy net so 'n klein idee kan hê van waarheen jy moet gaan!
Sjoe, dit was 'n mondvol, maar dit is regtig hoe sommige van die missies is, en dit is seker my grootste en enigste kritiek met MW2. Dinge is soms net te hectic, sodat jy dikwels nie regtig weet wat aangaan, wie jy moet skiet of waarheen jy moet gaan nie. Daar is darem die missies waar jy moet rondsluip en mense suutjies vermoor wat die pas bietjie breek.
Die storie het nie veel om die lyf nie, en die bietjie wat daar is, word oorgedra as die speletjie laai of wat mense vir jou sê terwyl jy speel. Dus is dit nogal moeilik om te volg.
Andersins is amper alles perfek, van die Hans Zimmer-klankbaan tot jou spanmaats wat jou inlig waar die vyand wegkruip.
Ja, die speletjie is kort - as jy goed is, kan jy dit in net so oor vyf uur klaarmaak, maar glo my, jy gaan dit weer en weer speel. Ook moet jy na MW2 kyk as drie soorte speletjies in een. Daar is die enkelspeler-afdeling, die co-op special ops en 'n asemrowende multispeler-afdeling wat jou vir altyd sal besig hou (seker totdat MW3 uitkom).
As jy kyk na alles wat MW2 jou bied, is dit sekerlik een van die beste eerste persoon-skiettitels in 'n lang tyd. Die bietjie storie wat daar is, is vol verrassings; en ja, nes in die eerste een gaan jy iewers langs die pad regtig doodgaan.
Wees net weer gewaarsku: Dit is kort. As jy net alleen gaan speel, is dit dalk die moeite werd om te wag totdat die speletjie 'n bietjie goedkoper word.