Om vir 'n Suid-Afrikaanse musiektoekenning benoem te word is bevange. Dit gee arme musikante soos ek die geleentheid om vir een naweek van die jaar soos 'n regte rockstar te leef.
Vliegtuie, huurmotors, blink skoene, vingeretes, vonkelwyn, black jack, backstage smoke breaks, valet parking, live shows, red carpets (geel in ons geval want MTN borg die toekennings), famous mense en vyfster-diens. Dis soos om 'n bergie te nooi vir 'n buffet-ete.
Met 'n naïewe gesindheid kan Sun City jou geestelik, emosioneel en finansieël riuneer as jy nie oopkop bly nie. Soos ek hier sit, spuit my kop nog steeds van al die liggies, dobbel-deuntjies en bemarking-besoedeling wat deur my sintuie gepomp is deur die loop van die naweek.
Aangesien dit my en Marli (my girlfriend) se tweede keer by oom Sol Kerzner se sirkus was, het ons hierdie jaar beter voorbereid gegaan vir die jol. En al was ek beter voorbereid, was daar nog steeds 'n paar keer waar ek duidelik daai "uitgevang"-liedjie van Leon Schuster in my kop gehoor het: "Kwa (laag), kwa (laer), kwa (nog laer), kwaaa... (laagste).
As jy benoem is, is jy by al die pre-drinks en hordes after-parties waar daar altyd gratis drankies en vingeretes is. Mens staan lank in die ry om 'n drankie te kry en sodra jy uiteindelik een kry, vlug jy buitentoe om te gaan rook. As jy terugkom na tien minute vir jou tweede een, is die gratis kroeg weg en staan daar 'n hele nuwe kontantkroeg met nuwe kroegmanne, net aan die teenoorgestelde kant as die vorige een.
Dis asof die gratis kroeg nooit daar was nie. Jy bestel vir jou, jou metgesel en 'n vriend elkeen 'n drankie en dan kos dit honderd-drie-en-tagtig rand. "Kwa, Kwa, Kwa, Kwaaa." Vlug weer buitentoe om te gaan rook en as jy weer terugkom het die hele after-party verdwyn en geskuif na 'n nuwe plek waar die siklus weer van vooraf begin.
Dus moet jy wake-up wees vir al die veranderinge wat plaasvind, anders hap Packman jou stadig maar seker op. Ek het die Saterdagaand 'n half-jack saamgesmokkel wat vir Packman in sy hok gehou het. Oor die feit dat ek gaan dobbel het met broodgeld en vreeslik sleg daarvan afgekom het, gaan ek nie eers praat nie: "KWA, KWA, KWA, KWAAA!"
Verder was die jol ongelooflik. Die verblyf en luukse buffetontbyt by die Cascades Hotel is definitief iets om oor huis toe te skryf.
Nog 'n manier om die minibar in jou kamer se hoë pryse te ontglip, is om die ape en bobbejane wat buite in die bome rondswaai te blameer want hulle is berugte inbrekers by Sun City. Die live optredes van al die diverse musikante en bands was van internasionale gehalte.
En om uit die amptelike SAMA Audi A5 op die geel tapyt uit te klim saam met jou girlfriend voor 'n klomp kameras maak dit die moeite werd om 'n arme musikant te wees in Suid-Afrika.