'n Nuwe verslag deur die RGN dui aan dat meer as een in elke tien seuns en een in elke sewe meisies seks het teen die ouderdom van 15.
Die RGN (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing) het die verslag saamgestel uit data wat in 2008 vir 'n nasionale MIV-opname versamel is.
Die opname het meer as 15 000 huishoudings reg oor die land gedek.
In die ouderdomsgroep 12 tot 14 jaar oud het 10,8% van seuns en 14,5% van meisies gesê hulle het reeds seks gehad.
Meeste van die seuns in die opname - wat kinders ingesluit het van geboorte tot en met die ouderdom van 18 – het geneig om seks te hê met mense in hul eie ouderdomsgroep.
Maar meer as 'n kwart van die meisies het mees onlangs seks gehad met mans wat vyf of meer jaar ouer as hulle was. Dit het hul risiko om MIV/vigs te kry verhoog.
Onder diegene wat seksueel aktief was in die 15 to 18 jaar groep, het sowat een in drie met meer as twee mense seks gehad in die laaste jaar.
Dit wil egter voorkom asof meeste van die tieners kondome gebruik het, met sowat 92,1% van seuns wat dit tydens hul laaste keer wat hul seks gehad het, gebruik het.