www.jip.co.za

Romantiese komedie (13V, vir geweld)

Romantiese komedie (13V, vir geweld)

Eendag was daar ‘n ou en 'n meisie.
Hulle paadjies kruis bloot toevallig, hulle raak verlief, iemand het 'n donker geheim, daar is etlike misverstande, die ondersteunende vriende - lelik, maar met mooi persoonlikhede - raak wyshede en hier en daar 'n kwinkslag kwyt, die saak word op die spits gedryf, en hulle bly lank en gelukkig saam. Ek bedoel hulle trou en bly toe saam. In 'n huis. Of in hulle geval natuurlik 'n kasteel.

Kort voor lank begin die huweliksbootjie wankel toe die rekeninge begin instroom - 'n kasteel is nie goedkoop om te onderhou nie. Hulle besluit om ‘n gedeelte as gastehuis te bedryf om sodoende munt te slaan uit die verwagte toename in toerisme meegebring deur die sokkerwêreldbeker.

Dit is net in flieks dat kelners en klerke 'n glansryke leefstyl kan onderhou, dus moet die tweetjies 'n vennoot kry om te help om die planne vir die gastehuis 'n werklikheid te maak. Die vennoot is natuurlik 'n opperste skelm, maar dit neem almal, insluitend die oorblywende ondersteunende vriende, die helfte van die verhaallyn om dit agter te kom. Toe is dit reeds byna te laat.

Dié spanning bring die tweetjies egter weer nader aan mekaar en hulle onthou hoekom hulle in die eerste plek op mekaar verlief geraak het.

Met behulp van die oorblywende vriende, en nou weer 'n paar nuwes, beraam hulle 'n plan wat in 'n ander fliek as diabolies beskryf sou word. Hierdie is egter 'n romantiese komedie, so die plan is bloot oulik en natuurlik suksesvol, buiten vir een of twee matig spannende oomblikke.

Met die toekoms van die kasteel nou nie meer in die weegskaal nie, hou die twee ‘n groot opskop en nooi al hul meningvuldige vriende. Die jolyt duur tot hanekraai, wat almal onkant betrap. ‘n Haan?! Hier in die kasteel?!?!

Ja, só maklik raak 'n mens nie van 'n bose vennoot ontslae nie. Die bose vennoot mág wel diaboliese planne beraam, en doen ook. Die haan is 'n perfekte elektroniese replika met 'n pens propvol trinitrolueen, afgekort as TNT en ‘n woord wat ek pas in die woordeboek raakgesien het.

Toe die eerste sonstrale teen die kasteel se ontelbaar baie ruite blink, aktiveer dit 'n sensor in die haan se kam wat die elektroniese haan laat kraai. Die kraai weergalm deur die kasteel soos net ‘n polifoniese luitoon deur 'n kasteel kan weergalm. 'n Stilte daal oor die fuifende hoofkarakters en hul vriende neer. 'n  Haan?! Hier in die kasteel?!?!

Te laat sien iemand die elektroniese haan tussen die ander tafelversierings raak. Die digitale syfers in die haan se oë tel meedoënloos af tot 'n onafwendbare einde, een wat die hoofkarakters en hul vriende van 'n verskriklike babelas en die leser van verdere oorwerkte uitdrukkings sal red.

Maar dit is 'n omantiese komedie en gelukkig kan een van die ondersteunende vriende die spannende situasie én die haan met nog 'n kwinkslag ontlont. Een van die besope gaste merk 'n skaduwee tussen die bosse oorkant die forelmeer op. Dit blyk die bose vennoot te wees, verslae en verslaan.

Die tweetjies is egter rein van hart en edel van inbors en vergewe die bose vennoot ná die stort van enkele trane. Allerlei leë beloftes word gemaak en almal sit aan vir ontbyt in die reuse-troonsaal. Hier merk die bose vennoot op hoe een van die tweetjies vir een van die ondersteunende vriende ogies maak.

Nog 'n diaboliese plan begin posvat, maar voordat enige verdere voorvalle van bedrog en rugstekery kan plaasvind, kraai die haan weer. 'n Haan?! Hier in die kasteel?!?!

Die ontploffing wis alle bewyse van die bestaan van die hoofkarakters, hul vriende, die bose vennoot, die kasteel, die forelmeer, die bosse oorkant die forelmeer en die elektroniese, polifoniese haan uit.

Die les? Die liefde is 'n hoogs onstabiele plofstof wat met groot omsigtigheid hanteer moet word. Dit is ook nuttig as jy 'n kasteel wil opblaas.

Die einde.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.