www.jip.co.za

Roger Federer se hart klop vir Suid-Afrika

Die wêreld se voorste tennisspeler, Roger Federer, maak geen geheim daarvan dat opheffingswerk in Afrika iets is wat hom na aan die hart lê nie.
Sy ma, Lynette, is as 'n nooi Du Rand immers 'n Suid-Afrikaner.

In die lig hiervan het die Roger Federer Foundation gereeld projekte in Afrika.
'n Persoon na aan dié organisasie wie se spruit in die nasionale o.13-tennisspan speel, het onlangs 'n aantal voorwerpe wat Roger onderteken het aan die Suid-Afrikaanse Laerskole-tennisvereniging geskenk.
Die gebaar maak dit voorts vir behoeftige lede van hierdie o.13-span moontlik om einde vandeesmaand na Amerika te toer.

Elke kind moet R26 000 vir die toer opdok, en iemand soos Jahnara Pillay (foto) van Pietermaritzburg wat net R12 000 tot haar beskikking het, sal waarskynlik nie gou weer vir iemand anders as hierdie Switser skree nie.


Die skolespan toer van 28 November tot 8 Desember in Amerika. Die eerste stop is in Maryland by die Junior-tenniskampioenskapstoernooi. Dan word onder meer die wêreldbekende Arthur Ashe Youth Tennis and Edu­ca­tion Center en die Suid-Afrikaanse ambassade besoek.


Jahanra



Die Wes-Kapenaars in hierdie span is:
Seuns: Jeninio Coetzee (Boland), Francois Kellerman (WP), Okkie Kellerman (WP), Hendrik Thiersen (Boland), Casper Badenhorst (WP) en Weyers Meintjies (Boland).
Meisies: Nelmarie Malherbe (Boland), Katherine Poluta (WP), Emma Stevenson (WP), Mila Malherbe (Boland) en Hunter Plaatjies (WP).


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.