Talentvolle bands het Saterdagaand die mure van Hoërskool Randburg se skoolsaal laat tril tydens die Johannesburgse-uitdunne van Rockspaaider. Riëtte Grobler en Mia Spies het met hulle gesels.
Osmosis
(Trinity High)
Aidan Camell: Elektriese kitaar en sang
Konrad de Vries: Akoesties en sang
Esté Meerkotter: Bass en sang
Ian Bultitude: Lead kitaar en sang
Rohan Pretorius: Dromme
Mia: Vanwaar die naam?
Esté Meerkotter: Die biologiese term ‘osmosis' het vir ons cool geklink. Dit beteken vir ons om ekwilibrium te vind en uit te vind wie jy is.
Mia: Hoe lank is julle al 'n groep?
Esté: Nog net vir drie weke. Ons het vir Rockspaaider gevorm nadat een van ons onderwysers ons ingeskryf het.
Mia: Wat maak julle anders as die ander groepe wat hier is?
Aidan Cammell: Ons styl is baie uniek, ons is nie emo nie en dra nie skinny jeans nie, ons het net ons eie individuele styl. Ons klank is elektries en ons gaan Indië na Afrikaanse musiek toe bring!
Mia: Hoe het dit gevoel om vanaand op te tree voor 'n gehoor en kameraspan?
Ons het omtrent nie eers agter gekom dat daar kameras is nie omdat mens so in die ding in raak. Dit was lekker om die nuwe liedjies te doen en ons het dit regtig baie geniet!
Mia: Wat is een ongewone ding van jouself waarvan niemand weet nie?
Ian Bultitude: Ek is van Brittanje en verstaan nie baie Afrikaans nie.
Esté: ʼn Bullmastif het my al twee keer in die gesig gebyt.
Konrad de VriesEk het al met 'n beer gestoei.
Aidan: Ek het my nommer 11-grote skoolskoene se veters in twee jaar nog nooit vasgemaak nie.
Gebroke Droom
(Hoërskool Monument, Hoërskool Florida, Hoërskool Noordheuwel en Impak Tuisskool )
Tobie Steenekamp: Dromme
Sarel Reynolds: Bass Kitaar
Herman Vermeulen : Vocals
Jean Minnaar : Kitaar / Backing Vocals
Hein Naude: Lead kitaar
Mia: Vanwaar die naam?
Jean Minnaar: Elke persoon het daai een mislukte droom en jy moenie dat daai een gebroke droom jou terughou en jou toekomsdrome sink nie.
Mia: Hoekom het julle ingeskryf vir Rockspaaider?
Hein Naudé: Dis ʼn lekker uitdaging, 'n thrill en 'n goeie geleentheid om naam te maak.
Mia: Waarom moet júlle Rockspaaider wen?
Sarel Reynolds: Daar is so baie gemiddelde bands wat groot gaan in die musiekbedryf en as hulle kan groot gaan kan ons ook beslis groot gaan.
Harry Vermeulen: Dis ons leefstyl en ons passie.
Mia: Watter unieke bydrae wil julle maak tot die Suid-Afrikaanse musiektoneel?
Harry: Ons maak nie net musiek nie, ons is ook entertainers wat ons inleef in elke show.
Mia: Watter mode-item laat julle band uitstaan?
All Stars en Sarel se bandana.
Mia: Wat is een ongewone ding oor jouself wat niemand van weet nie?
Harry: Ek het 'n vrees vir narre.
Tobie Steenekamp: Ek hou daarvan om dinge soos go-karts m et my hande te maak.
Hein: Ek spandeer twee uur per aand om my snor te laat groei.
Sarel: Gig altyd in sy skoolkouse
Jean: My gunsteling kos is brood blatjang-tjips en piesang op.
Sinestesie
(Helpmekaar Kollege)
Francois Havenga - kitaar en vocals
Willem van Rensburg - Kitaar en backing vocals
Vincent Kok - Bass
Brendan Jacobs - drummer
Mia: Hoe het julle op julle naam besluit?
Franco Havenga: Sinestesie is om twee sintuie op dieselfde tyd te gebruik en die woord het net so 'n geheimsinnige gevoel.
Mia: Wat maak julle anders as die ander groepe wat hier is?
Vincent Kok: Ons musiek het 'n akoestiese gevoel. Dis asof ons 'n tweede Muse is.
Mia: Vertel my van die band en waarom julle musiek maak?
Franco: Ons passie vir musiek bind ons saam. Ons maak rock met 'n akoestiese gevoel.
Mia: Watter mode-item laat julle uitstaan?
Willem van Rensburg: Die maskeerband wat ons op onsself plak! Niemand anders doen dit nie.
Franco: En ons drummer speel sonder 'n hemp!
Mia: Watter ongewone ding is daaroor oor jouself wat niemand weet nie?
Willem: Ek dra 'n onnie onder my boxer.
Franco: Ek het nog net een meisie gehad en die verhouding het net 'n maand lank gehou.
Vincent: Daar het al vir vyf jaar lank iets in my oor vasgesit.
Brendan Jacobs: Ek is verslaaf aan Lan!
Tussen die duiwel en die diep blou see
( Hoërskool Linden en Abbots College)
AB Viljoen - Hoofsanger
Dylan Calldo - Baskitaar
Ruan Pretorius - drummer
Marco Nachenius - Hoofkitaar
Mia: Waarom het julle op dié naam besluit?
AB Viljoen: Ons is tieners en moet baie keer keuses maak tussen twee dinge wat ewe sleg is. En dan kan jy nét 'n slegte besluit maak.
Mia: Hoekom het julle ingeskryf vir Rockspaaider?
Ruan Pretorius: Ons vriende het al ons musiek gehoor en hou daarvan, so ons wil dit vir die mense daar buite ook speel.
Marco Nachenius: Ons maak Afrikaanse metal en wil bewys dat Afrikaanse metal iets kan bereik in die Afrikaanse musiekbedryf.
Mia: Wat maak julle uniek?
Marco: 'n Sewe-string kitaar en goeie, tegniese metal.
Dylan Calldo: Die band het rustig begin en geleidelik al meer aggressief geword.
Mia: Vertel jou groupies een ding oor jouself wat hulle nie andersins sou geweet het nie.
Marco: Ek is 'n vyfjarige in 'n sewentienjarige se lyf.
Ruan: Ek oefen die tromme kaal as ek alleen is.
Dylan: Ek is eintlik baie skaam en is 'n hopeless romantic.
AB: Ek wou nog altyd 'n klein sussie gehad het.
Favourite Worst Nightmare
(Hoërskool Lydenburg en Hoër Volkskool Potchefstroom)
Drikus Lamprecht: Vocals en lead kitaar
Wimpie Swanepoel: Kitaar
Francois Janse van Vuuren:Drummer
Louis Fourie: Bas
Riëtte: Julle musiek klink vriendeliker as julle naam - verduidelik waaroor dit gaan?
Drikus Lamprecht: Die idee van Favourite Worst Nightmare, is dat ons die positiewe uit die negatiewe wil haal. Wanneer mense ons naam hoor, verwag hulle 'n heel ander klank. So die verrassingselement is ook cool.
Riëtte: Hoe het dit gevoel om aan Rockspaaider deel te neem?
Flippie Swanepoel: Die gehoor was awesome!
Burger Beyers Ons het hom genail!
Riëtte: Is daar enige iets oor jou waarvan niemand weet nie?
Burger: Ek hou daarvan as my huge hond, Mia, langs my slaap. Sy mag nie eintlik in die huis wees nie en daar is nie regtig vir my plek nie. Maar sy is lekker fluffy.
Flippie: Ek eet spinasie met grondboontjiebotter op brood.
Louis Fourie: Ek hou daarvan om Baby Tjoklits in die stort te sing.
Drikus: My tweede naam is Christoffel. Hierdie ouens het hulle vrek gelag toe hulle uitgevind het.
Riëtte: Wat maak julle uniek?
Louis: Ons mascot, Rupert. Dis 'n klein sleutelringbeertjie wat eendag, randomly, by ons dromme gelê het voor 'n oefening. Ons het nogal op daardie stadium hulp nodig gehad en toe Rupert opdaag, het dinge net reg geloop.
Burger: As 'n ou hulp nodig het, dra hy Rupert by hom wanneer ons 'n gig het.
Riëtte: Waarom wil julle in 'n band wees?
Drikus: 'n Mens kan nie deel wees van musiek as jy dit nie maak nie. As jy op die verhoog is, is jy en die musiek één.
Part Time Job
(Treverton High, Durban en Allan Glen High)
Julian Short - hoofsanger en kitaar
Lowan Schoombie - drummer
Greg Moschides - bass kitaar
Setth Bartlett - kitaar
Riëtte: Hoe het dit gevoel om aan Rockspaaider deel te neem?
Julian Short: Ons het nog nooit eintlik eers geoefen met sulke groot amps nie!
Riëtte: Waarom het julle al die pad van Natal af gekom om in Johannesburg aan Rockspaaider deel te neem?
Julian: Ons was moeg daarvoor om die heeltyd in klein klubs te speel wat ons met moeite moes organiseer. Dit was die moeite werd om so ver te kom om deel te neem, want ons het ongelooflik baie geleer en baie anders bands ontmoet.
Riëtte: Julle is eintlik Engels - was dit moeilik om jul liedjies in Afrikaans te vertaal?
Julian: Ek het die afgelope week al ons liedjies uit Engels in Afrikaans vertaal en dis nogal moeilik om die ritme en so aan behoue te laat bly. My ma het nogal gehelp!
Maar ek het myself gisteroggend gevang waar ek gesit en dink het aan 'n oorspronklike liedjie in Afrikaans!
Seth Bartlett: Die moeite was verseker die moeite werd, want ons kan onsself op MK sien! Die Afrikaanse musiektoeneel is ongelooflik - julle het dan selfs julle eie televisiekanaal, so natuurlik wou ons deel wees daarvan!
Riëtte: Waaroor gaan julle musiek?
Greg Moschides: Ons is eintlik net 'n groep vriende wat bymekaarkom om die musiek te speel waarvan ons hou.
Seth: Wanneer ons op die verhoog klim, speel ons musiek wat lekkeris om te speel. As jy hou van die musiek wat jy speel, sal die gehoor ook daarvan hou.
Riëtte: Vertel my een ongewone ding oor jouself waarvan niemand anders weet nie.
Greg: Ek gooi Tobasco in my tee. Dis 'n lekker smaak met 'n byt.
Seth: Ek is eintlik 'n baie laid back ou. Na skool kan ek heelmiddag musiek luister.
Lowan: Ek is eintlik bietjie depro, maar musiek gee my hoop.
Julian: Ek kan net stort in die donker!
Mars Riot
(Hoërskool Randburg en Hoërskool Noordheuwel)
Mari Labuschagne - lead vocals
Sheldon van Wyk - drummer
Johan van Dyk -kitaar en agtergrondsang
Tjaart van der Walt - baskitaar
Riëtte: Hoe het dit gevoel om aan Rockspaaider deel te neem voor 'n gehoor én televisiekameras?
Mari Labuschagne: Dit was mal... insane!
Riëtte: Hoe lank oefen julle al vir Rockspaaider?
Mari: Ons het flippen hard geoefen - elke dag! Ek was meer by Sheldon se huis waar ons oefen, as by my eie huis die afgelope ruk.
Riëtte: Waar kom julle naam vandaan?
Mari: Ons het nog die Saterdag geoefen voor die Rockspaaider-inskrywings gesluit het en het nog nie 'n naam gehad nie. Ek het eenkeer die woorde Mars Riot op 'n grafittimuur gesien en gedink die naam kan nogal werk vir 'n band.
Riëtte: Waarom wil julle dit maak?
Sheldon van Wyk: Dis iets wat ons net moet doen! Ons het 'n song in 'n studio opgeneem en dit was ongelooflik.
Tjaart van der Walt: Voor ons in die studio gewerk het, wou ek in die boubedryf ingaan! Maar nou wil ek net musiek maak, want 'n mens weet it net! Daar is nie letters in die alfabet om musiek te beskryf nie.
Johan van Dyk: Musiek is 'n manier om jou gedagtes bymekaar te maak. Dit is my refuge.
Mari: Voor ek in die band was, het dit vir my gevoel of daar nie 'n doel in die lewe is nie.
Riëtte: Watter tipe musiek maak julle?
Tjaart: Ons genre is melodic rock.
Mari: Wat nogal belangrik is van ons musiek, is dat ons nie oor die liefde wil sing nie. Dis so 'n cliché. Die wêreld gaan oor meer as ouens en meisies.
Riëtte: Mari, hoe voel dit om die enigste meisie in die band te wees?
Mari: Partykeer is hulle maar lelik met my! Maar eintlik is dit baie lekker en dit gee my 'n verskoning om met die ouens uit te hang.
Om te Skryf
(Helpmekaar Kollege)
Francois (Skuim) van der Merwe: Lead Vox, Bass, Keyboards
Reino van Aswegen: Rhythm Guitar
Wesley van der Westhuizen: Lead Guitar, Keyboards
Marius Ferreira: Drummer
Riëtte: Julle het 'n ongewone naam?
Reino van Aswegen: Dit het alles begin toe ons een Rek.-periode nie klas gehad het nie. Ons het daar en dan besluit om 'n band te begin, maar ons kon nie besluit op 'n naam nie. Dit was eers Kinders van die Oorlog, toe Selfoondiewe... en nou, Om te Skryf.
Francois van der Merwe: As jy iets neerskryf, bly dit vir altyd vasgevang, maar as jy iets net sê, verdwyn jou woorde.
Riëtte: Hoekom het julle 'n band begin?
Reino: Ons het almal van kleins af musiekklasse gehad en het nie regtig 'n keuse gehad om die een of ander musiekinstrument te bespeel nie.
Riëtte: Hoe werk julle kreatiewe proses?
Francois: Ek skryf al ons liedjies.
Reino: Jy moet dit sien. Hy kom met 'n dik boek skool toe en skryf elke dag daarin, maar al die ouens dra by om ons musiek te laat werk.
Riëtte: Dit was nog maar net julle tweede gig, maar mense het al klaar die woorde van julle een liedjie saamgesing. Hoe het julle dit reggekry?
Francois: Hier is nou 'n stukkie goeie raad - as jy in 'n band is, laat 'n demo record en stuur dit met blue tooth vir jou vriende. Hulle sal dit vir hulle vriende stuur en die song sal versprei. Dit is wat ons gedoen het.
Riëtte:Watter tipe musiek maak julle?
Francois: Ons skryf inspirational rock.
Riëtte: Wat maak julle uniek?
Reino: Ons danse, die Dixy Jive, die Majuva Township en Pantsula Freestyle. Ons het alles self uitgedink.
Riëtte: Vertel my iets van jouself wat niemand weet nie:
Marius Ferreira: Ek gaan alleen fliek toe en kyk alles, behalwe Twilight.
Reino: Ek dra altyd 'n blou onnie as gelukbringer.
Wesley: Ek mediteer en strek elke dag.
Francois: Ek is dalk laid back, maar hou van struktuur by ons oefeninge.
Primêre Rebellie
(Hoërskool Florida)
Ruan Kotze - kitaar en backing vocals
Ivan Grobbelaar - drummer
Bernard Mol - hoofsanger en ritme kitaar
Johann Rossouw - baskitaar
Riëtte: Waarom het julle vir Rockspaaider ingeskryf?
Ivan Grobbelaar: Dit is al die derde keer wat ons inskryf en ons het nog elke keer tweede gekom in die streeksfinaal. Maar hierdie jaar is on shier om te wen!
Riëtte: Waaroor gaan julle naam?
Ivan: Dit het op 'n stadium mos maar sleg gegaan in die land - dwelm, misdaad en drank... ons het besluit om te rebelleer teen die negatiewe dinge in die samelewing, soos rassisme.
Riëtte: Waaroor gaan julle musiek nog?
Bernard Mol: Ons ander songs, wat nie oor die land gaan nie, gaan oor meisies. Deeltydse Meisie gaan oor 'n player wat met 'n meisie mors en daar is 'n ander liedjie Die Meisie, wat eers My Meisie was... dalk moet ons dit sommer net 'n Meisie noem.
Riëtte: Wat is die aantrekkingskrag van 'n band vir ouens?
Ruan: Want chicks dig bands.
Riëtte: ... en wat van bandlede se liefde vir skinny jeans?
Ivan: Jy perform net beter want jy het nie 'n broek aan wat jy die heeltyd vastrap nie.
Bernard: Ja, dis eintlik soos die ekwivalent van 'n rugbyspeler se PT-broekie.
Riëtte: Vertel my een ding oor jouself wat niemand anders weet nie.
Johann: Ek is verlief op Bernard.
Bernard: Ek het op 'n stadium in die oggend koeie gemelk sodat ek melk in my Cornflakes met melk kon drink.
Ivan: Ek sing net Hannah Montana-liedjies in die stort.
Ruan: Ek slaap nog met my laerskool Spiderman-pakkie.