www.jip.co.za

Platbek se tronk

Daar sit al vir drie jaar lank 'n CD in my kar se CD-speler vas en hy werk net wanneer hy wil. Die res van die tyd gee hy vir my ‘n error message. Dis 'n mp3-versameling van The Black Keys se eerste twee albums.

Gister terwyl ek poskantoor toe ry bedink ek hierdie situasie. Hoekom het hierdie weird stuk 90's tegnologie besluit om my Black Keys CD te sluk en dit nooit weer uit te spoeg nie? En hoekom speel hy net wanneer hy wil? Wat is die rede vir hierdie malligheid?

In my verbeelding begin die CD-speler 'n persoonlikheid en 'n bewussyn ontwikkel. Hy kry toe sommer 'n naam ook, Platbek. Terwyl ek aan Platbek se streke dink hoor ek 'n meganiese geluid wat begin brom uit sy rigting sonder dat ek enige knoppies gedruk het. Weet hy wat ek dink, kan hy my gedagtes lees? Ek raak angstig want die jaar is immers 2010 en scenes van Stephen King se 80's fliek, Maximum Overdrive, speel in my kop af. Die fliek handel oor elektroniese toestelle wat handuit ruk en mense begin doodmaak.

Platbek se gebrom word al hoe harder. Nou is ek bang, "Platbek, kan jy my hoor?" Ek praat met 'n CD-speler. Hy brom terug en voor ek derde rat toe kan oorsit, spoeg hy my Black Keys CD uit. Ek gryp die skyf uit sy bek uit voor hy hom weer kan sluk en skreeu random goed uit blydskap by die venster uit.

Toe ek by die huis kom, moes ek mooi besluit watse CD ek weer in sy gesig druk want wie weet, miskien sluk hy hom weer vir drie jaar. Ek besluit toe op Rodriguez se tweede album, "After the fact" aangesien ek twee kopieë het.
Ek druk Rodriguez se skyf in. Die oomblik is spanningsvol. Hy neem hom. Hy speel hom. Blydskap! Maar gaan hy hom weer vir my teruggee? Ek druk eject. Spanning. My hart klop vinnig. Hy brom. Hy spoeg hom uit. Meer blydskap! Platbek is genees. Ek het weer 'n CD-speler!

Wat de hel het nou net gebeur? Ek ervaar gemengde gevoelens van vrees en ekstase. Hoekom het Platbek besluit om The Black Keys vry te laat uit sy gesig se tronk uit? Kon hy my gedagtes lees? Is daar enige logiese rede hoekom ek net nou en dan The Black Keys kon luister vir drie jaar lank? Ek weet nie, dit freak my nou nog uit. Al wat ek weet is dat ek het my BA Black Keys-graad na drie jaar gekry het.


 


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.