Paarl Gimnasium (groot skole), Augsburg Gimnasium (medium-groot skole) en Itembelhile (klein skole) is gekroon as kampioene van Die Burger se rugbykompetisie vir hoërskole.
Die eindstryd van dié gewilde skolekompetisie is op die velde van HS Framesby in Port Elizabeth gespeel.
In die eindstryd vir groot skole het Paarl Gimnasium (WP) in die tweede helfte in top-rat gespeel en Framesby die hele tyd op die agtervoet gehou.
Die Paarl-span se hantering, ondersteuning en goeie oordeel op die aanval het gemaak dat die dapper Framesby-span uiteindelik nie meer die gate kon toestop nie, en die Gimmies het in die tweede helfte die een drie ná die ander ingeryg.
Teen rustyd was sake nog taamlik gelykop, maar daarna het Paarl Gim heeltemal oorheers en met 'n indrukwekkende vertoning duidelik gewys hoekom hy as een van die sterkste skolerugbyspanne in Suid-Afrika beskou word.
Die hele Gim-span het goed gespeel; nogtans verdien die spel van die losskakel Lance Ruthford vermelding. Hy het baie na aan die voordeellyn gespeel en uitstekend die voor- sowel as die agterspelers in die spel gebring. Ook sy taktiese skopwerk (met 'n wind wat baie sterk gewaai het) was baie goed.
Die Gimmies se losvoorspelers met Christiaan Smit (agtsteman) en Ruan Mouton (flank) aan die spits het ook die bal uitstekend opgedra op die aanval.
Met hierdie vertoning het Paarl Gim die WP-skoleunie baie trots gemaak, want dit was aanvallende maar ook klinies korrekte rugby.
In die afdeling vir medium-groot skole het Augsburg Gimnasium (Clanwilliam en Boland) se spelers 'n groot karaktertoets geslaag toe hulle met die sterk span van die Hoërskool Oudtshoorn afgereken het.
Die wilskrag, passie en kanniedood-benadering van die Clanwilliam-span het die grondslag vir sy sege gelê. Met dapper verdediging het dié span die gevaarlike agterlyn van die Struisies bitter min kans gegee om aan die hardloop te gaan.
Armand Odendaal (slot) van Augsburg was 'n krag in die lynstane asook met die bal in die hand, en hy kan vorentoe nog heelwat sukses in rugby behaal.
Ook Lazaar Volschenk (agtsteman) en Jaco Visagie (haker) was uitblinkers met hul kanniedood-verdediging asook sterk lopies met die bal in die hand.
Op heelagter het Janco Lehman 'n puik vertoning van posisionele spel gelewer, terwyl Zander Spammer (skrumskakel) en Jeremy Basson (losskakel) hul agterlyn vinnig aan die gang gekry het.
Vir Oudtshoorn was die ratse skrumskakel Percy Williams altyd 'n gevaar op die aanval, en sy kombinasie-spel met die agtsteman Godfrey Fourie was 'n sterk punt van die Struisies se spel.
Wat Augsburg se prestasies merkwaardig maak, is dat hierdie skool vyf jaar gelede nog in die afdeling vir klein skole gespeel het, want toe het hy slegs drie rugbyspanne gehad. Tans beskik hy oor agt. Hierdie groei in rugbyspanne is 'n groot pluimpie vir die skool - die leerlinge asook die rugbyafrigters.
In die afdeling vir klein skole is Itembelhile (OP) vir die derde keer as kampioen gekroon nadat hy Hawston met 35-25 verslaan het.
Indien Hawston se spelers beter verdedig het, kon hulle die wedstryd gewen het, maar die Bolanders was dwarsdeur die wedstryd te geneig om te hoog te vat. Gevolglik het die OP-span ente veld gewen met sy reguit manier van hardloop.
Die 6-flank van Hawston, Warren Brown, het puik werk gedoen op die dekkingsverdediging, terwyl Gerswin October (heelagter) kalm onder druk was en 'n klompie mooi teenaanvalle geloods het.
Hawston se skakelpaar, Marciano Gahl (skrumskakel) en Mauretmor Arendse (losskakel), het met hul vaart en vernuf vir Hawston baie op die aanval beteken.
In die geheel gesien, was die eindstryd van Die Burger-rugbykompetisie 'n puik advertensie van skolerugby in Suid-Afrika.
PUNTEMAKERS:
PAARL GIM 57 - FRAMESBY 6
Drieë vir Paarl Gim: Christiaan Smit, Luqmaan Ismael (vleuel), Kobus van Wyk (senter), Conrad Loubser (vleuel, 2), Ruan Mouton, Niel Claasen (slot) en Jandre Conradie (haker). Willie Viljoen (skrumskakel) het sewe doelskoppe behaal en Lance Ruthford 'n skepdoel.
Framesby: ses strafdoele: Reynier Bernardo (slot) en Christiaan Dempers (losskakel).
AUGSBURG 12 - OUDTSHOORN 10
Drieë vir Augsburg: Jaco Visagie (haker) en Lazaar Volschenk (agtsteman), Doelskop: Janco Lehman (heelagter).
Oudtshoorn: Drieë - Yoveheno Kampher (2, vleuel).
ITEMBELHILE 35 - HAWSTON 24
Drieë vir Hawston: Alvino Cornelius (3) en Bredon Hunter (haker). Roland Swarts (senter) het met 'n strafdoel geslaag en Mauretmor Arendse met 'n doelskop.