"Ek kyk glad nie televisie nie."
Het jy al agtergekom hoe mense wat dít sê dit boonop op so 'n snedige manier sê.
Snedig, sê die HAT, is "kwetsend, skamper bytend".
Skamper, sê die HAT, is "spottend, geringskattend; op 'n minagtende manier".
O, dankie tog. Ek het vir 'n oomblik gedink daar's 'n tikfout in die HAT en dat hulle dalk eerder "amper bytend" bedoel het. Ek het die word "skamper" nog nooit gehoor nie, maar sal dit van nou af tot vervelens gebruik. Uitentreure (wat "tot vervelens" beteken).
Ek is die wêreld sê voorste ontdekker van ongebruikte woorde in die HAT. Dis nou wanneer ek nie televisie kyk nie.
Ek kyk baie televisie. Dis hoekom dit my so vies maak wanneer iemand sê "ek kyk glad nie televisie nie" op 'n manier wat dit laat klink asof televisiekykers vir dieselfde geld ook klein kindertjies kan dwing om katte vir aandete te slag. En dan sommer die kindertjies ook eet.
Maar 'n mens het 'n groterige skottel nodig vir só 'n gereg en ek gebruik my skottel om selfs nog méér televisie te kyk. Ek diskrimineer nie juis teen programme nie, so ek het reeds voor die koms van die skottel baie televisie gekyk. Nou het dit waarlik epiese afmetings aangeneem.
Moet ook nie dink ek sit net kwylend daar op die bank nie. Nee, ek is 'n coach potato - banktjippie? - van Olimpiese standaard.
Terwyl ek kyk, lees ek ook die koerant of 'n boek of ek dink oor dinge. Tussendeur knibbel ek aan min of meer alles. Trouens, ek doen alles wat ‘n mens moontlik van 'n rusbank af kan doen.
Een aand het my yskasdeur op 'n skrefie oopgestaan en ek het dit met ‘n tekkie gegooi om dit te probeer toe kry. Dit was nie suksesvol nie. Die glasbak wat in die proses op die grond geval het, was wel soos 'n episode van Time Warp waar dinge so in slow motion breek.
Vir my is dit soos meditasie (die televisiekykery; die tekkiegooiery is meer soos gim). Enige mens met 'n werk sal weet dat dit 'n mens soms 'n bietjie opwerk en jou gedagtes baie besig hou.
Vir my is dit baie lekker om ‘n bietjie Binnelanders of Egoli of selfs af en toe Days of our Lives deur te werk. Vir daardie uurtjie gaan daar niks in my kop aan nie - en is dit nie tog maar die hoofdoel van meditasie nie? Hoe verskil 'n bietjie sepie-zen nou van 'n zen-tuintjie?
So, as jy my sal verskoon, dis tyd vir my om die son-soek-die-maan-zoem-zoem-groen-Fizzer-lotus-posisie op die rusbank te gaan inneem. Ek is seker daar is iewers iets om te kyk.