"En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip." - Gen. 1:28
Ons het taamlik goeie werk daarvan gemaak om die opdragte van die God van die Ou Testament te volg.
Of het ons?
Vermeerder en vul die aarde - check.
Dit was maklik.
Heers oor die visse in die see, die voëls in die hemel en die diere wat op die aarde kruip - check.
Dit was nie so maklik nie, want van hulle het skerp tande en kloue, maar ons het dit gedoen gekry.
Onderwerp die aarde?
Nie heeltemal nie.
Met al ons mag en glorie en wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang is ons steeds magteloos as dit kom by die doen en late van Moeder Aarde. 'n Mens hoef nie ver te soek vir voorbeelde nie.
Eyjafjallajökull, die Yslandse vulkaan, is maar net die mees onlangse bewys van die mens se onderdanigheid aan die natuur.
Twee uit drie van dié opdragte is seker nie sleg nie?
Maar ek wonder nou selfs oor hoe 'n goeie job ons doen met die oorheersing van die diere.
As ek die baas was en die mensdom my middel-bestuur, sou ek ge-downsize het.
Sure, ons is in beheer as gevolg van ons verhoogde kogniese intelligensie, maar as dit kom by die identifisering van potensiële probleme en om oplossings daarvoor te vind, is ons eintlik maar power.
Die diere wat ons kan benut, oorproduseer ons, en die ander roei ons uit. In Amerika (Amerika!) word 10 miljard diere (beeste, hoenders, varke, kalkoene, eende en skape) per jaar grootgemaak en geslag in fabrieksplase onder haglike omstandighede. Ons praat hier van die mensdom; en hoewel dit nie altyd so voorkom nie, is Amerikaners ook inderdaad deel van die mensdom.
Nie net is hierdie plase gevaarlik vir die plaaswerkers nie, maar ook vir die mense wat hierdie diere se vleis eet.
In Amerika (Amerika!) is daar 76 miljoen mense wat siek word, 325 000 mense wat in hospitale opgeneem word en 5 000 mense wat elke jaar sterf aan siektes wat in die kos wat hulle eet, voorkom.
Een van die grootste sondaars is die bakterie Escherichia coli. Wat hier interessant is, is dat beeste wat gras eet, 'n natuurlike weerstand teen hierdie bakterie opbou, maar dis goedkoper om die beeste graan te voer. Graan bied die diere geen natuurlike weerstand teen E. coli nie.
Pleks daarvan om die basis van die boerdery te verander, verkies die korporasie dan om 'n goedkoper, chemiese oplossing toe te pas en was hy die vleis in ontsmettingsmiddels wat eendag wie weet watter gevolge vir ons sal hê.
Heersers? Ja.
Goeie bestuurders? Nee.
Een uit drie is druip. Eintlik is al wat ons al reggekry het, om te vermenigvuldig.