www.jip.co.za

(On)aangename kennis


Ek is nie ‘n pretpersoon nie. Moenie later kerm dat jy nie gewaarsku is nie.
Gaaf, met dit agter die rug kan ons aanskuif na ander dinge. Soos Wat ‘n lewe.

Wat ‘n wat?! Wel, daar word beweer verandering is so goed soos ‘n vakansie, so ná ongeveer 400 verskynings op koerantpapier maak Wat ‘n lewe nou sy debuut op die rekenaarskerm.

Wie se lewe? Wel, myne. Alles hier gaan net oor my. Jy sal dink dit is ietwat verwaand totdat jy uitvind net wat ‘n ongelooflike verskynsel ek is. Soos jy reeds weet, is ek nie ‘n aangename mens nie. En ek skrik nie vir ‘n scene nie. Sluit maar toe die troeteldiere en kleinerige kindertjies. En die yskas. Soos enige vuurspuwende draak hou ek daarvan om gepaai te word met geskenke en geld. Ek hou van kaasbroodjies en suurlemoentee, asook Zoo-koekies, Skittles en groen Fizzers.

Moenie dink jy kan van my ontslae raak nie. Al goeie maniere wat ek het, is goeie maniere om jou op te spoor en te pla. Ek en watter army? Wel, my seven nation army bestaande uit twee honde en ‘n papegaai, ‘n evil roosboom, twee vetplante en ‘n Japanese maple met heelwat ervaring in Oosterse gevegskuns. Ek is soos Chuck Norris, maar met beter hare. Ook minder hare. Moenie met ons sukkel nie, want dinge mag dalk nie vir jou ten goede meewerk nie.

O, amper vergeet ek, ek het ook heelwat super powers. Dinge soos die doen van langdeelsomme en die praat van nonsens. Ek is ook die amptelike wêreldrekordhouer in uitstel. My mislike geaardheid word net oortref deur my verlammende gebrek aan belangstelling. My leuse is soortgelyk aan dié van die SABC: Inskerping deur herhaling. Moet dus nie moan of briewe skryf as jy iets hier lees wat vir jou vaagweg bekend voel nie. Dis seker maar ietsie wat jy geëet het.

Wat ‘n lewe is ‘n sinnelose gebrabbel oor die waarlik belangrike dinge in die lewe. Hieronder tel die knoop van jou eie skoenveters, die uitknip van prentjies uit die Huisgenoot, lelike aanmerkings oor dom mense, die bou van ruimteskepe, hoe om ‘n superskurk te wees, die identifisering van gloeiende, polsende goeters in jou yskas en die korrekte gebruik van die woorde "uitentreure" en "fyntonnie". Ons het selfs ons eie sepie.

Die Ongereelde Avonture van Aksieheld At is ‘n boeiende aksieverhaal wat handel oor, wel, die ongereelde avonture van Aksieheld At, sy hond, McKwaai, en sy meeloper, Frats. Hulle rits die heelal vol in die ruimteskip Ruiter van die Nag. At se aartsvyand is die energieke Endorfina Malherbe en haar privaatsekretaris, Die Witwarm Wonderman. Die storie het ongelooflik baie aanhangers (dankie, julle twee, die tjek is in die pos) en is beslis die coolste in-ding in hierdie dae.

Ek kan sommer sien wat jy nou daar sit en wonder: "Hoe op aarde het dit gebeur dat ek nie voorheen van hierdie skatkis van wysheid bewus was nie? Ek sien nou eers hoe leeg my lewe was!"

Hier's wat ek wonder: Hoe op aarde het dit gebeur dat jy tot hier gelees het? Ek sien nou eers hoe leeg jou lewe is!




www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.