Nege nuwe WP-hoërskole rekords is die naweek op die Noordsone-atletiekbyeenkoms in die Bellville-stadion opgestel. Die byeenkoms het in byna ideale atletiekweer plaasgevind, met net 'n matige bries van voor wat met tye in die pylvak gewoel het.
Drie skitterende spiesgooirekords is opgestel, naamlik Rocco van Rooyen (s o.19) van die Hoërskool Bellville met 'n puik afstand van 69,13m, Morné Moolman (s o.17) van die Hoërskool D.F. Malan met 71,35m en Tiaan Swanepoel (s o.14) van die Hoërskool Stellenberg met 'n pragtige gooi van 60,76m.
Hierbenewens het Samantha Pretorius van die Hoërskool Bellville die m o.19 verspringrekord na 6,00 m verbeter, Madeli Kruger van DFM die m o.15 diskus-rekord na 33,85m en Saskia Smalberger, ook van DFM, die m o.19 100m hekkies-rekord met 'n tyd van 16,11s.
Ander nuwe rekords is die s o.17 400m-hekkies van 53,20 wat deur Taariq Solomons van die Wes-Kaap Sportskool opgestel is. En in die s o.19 800m het M. Davids van The Settlers 'n skitterende tyd van 1:55,32 aangeteken.
Twee atlete het elk drie wedlope gewen, naamlik die Hoërskool Tygerberg se ster-atleet Sonja van der Merwe, wat in die m o.19 100m, 200m en 400m eerste plekke behaal het. Laasgenoemde in 'n nuwe rekordtyd van 55,21. Sy het egter op die MTBS-byeenkoms die 400m in 'n nog vinniger tyd van 54,82 voltooi, maar dié wag nog op erkenning. Die ander atleet wat 'n driekuns aan goue medaljes behaal het, is die ewe knap Stacey Welsch van die Hoërskool De Kuilen, wat die m o.17 100m, 200m en 100m hekkies gewen het.
Lees al die uitslae hier.