www.jip.co.za

Musiekfeeste en die ramp van ’n verlore selfoon

'n Fees kan soms wreed wees. Net soos die partytjie lekker rof raak, verloor 'n mens maklik iets van waarde.
Een van die eerste groot konserte waar ek en Die Toffies gespeel het, was by die Robertson Rocks-fees in 2005. Een spesifieke ding val my gister by oor dié naweek in Silverstrand.

Fokofpolisiekar het die Saterdagaand die malste show van die naweek gespeel. Die jongmense was honger vir hulle en dit was die rofste moshpit waarin ek al was.
Ná die show het die grasperk voor die verhoog soos 'n slagveld van besittings gelyk. Terwyl ek my skoen gesoek het, het ek 'n selfoon opgetel. Ek het die eerste paar nommers op die register gebel om hierdie persoon se maats te laat weet van die foon, maar niemand het geantwoord nie.


Later die aand ontmoet ek 'n paar ou stout vriende wat ek lanklaas gesien het. Ons bel toe die laaste inskrywing op die foon genaamd, "Ma". Die tannie antwoord, "Jaco! Is julle veilig?" Ek speel saam: "Ja, ma! Ons is veilig en dronk en baie honger! Betaal asseblief vir my 'n geldjie in! Baai!"


Daarna het ons seker so vyftig foto's van ons almal se kaal boude op Jaco se foon geneem tot die battery pap was.
Toe ons die volgende dag waai, het ek die pap foon en Jaco se ma se nommer vir die veiligheidswagte by die hek gegee. Ek wonder of Jaco se ma toe vir hom 'n geldjie inbetaal het en wat hy van die boude gedink het.
As jy vanjaar na Up the Creek, Ramfest, Raka of KKNK oppad is, pas jou selfoon maar goed op. Daar is erger dinge wat kan gebeur as om hom net te verloor . . .




www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.