"You will be assimilated. Resistance is futile," sê Seven-of-Nine. En sy bedoel elke woord daarvan.
Ek sou nie met haar mors as ek jy is nie. Sy is deel van die Borg - ‘n kollektiewe gemeenskap waar almal dieselfde gedagtes en kennis deel, met ‘n koningin wat opdragte gee. (Sy het net ‘n kop. Baie royal.) Hoekom hulle nou regtig alles wil assimileer, is nie duidelik nie.
Voel jy in die duister gelaat? Soek jy advies, ly jy verlies? Voel jy die lewe het knypers...? O, nee, ‘skuus, dis iets anders. Seven-of-Nine lewe in Star Trek. Ek is al vir solank ek kan onthou ‘n SF-fan. ‘n Science fiction junkie. ‘n Aanhanger van wetenskapfiksie.
Eintlik jok ek. Ek onthou ‘n tyd - jy sal waarskynlik nie - toe Buck Rogers op televisie was. Buck Rogers is naas Spock en Captain Kirk die oudste mense uit die toekoms. Ek en my broer het graag Buck Rogers gekyk. Hy (my broer, nie Buck nie) het tot ‘n Buck Rogers-hemp gehad. Hy (Buck, nie my broer nie) het weer so ‘n irriterende robot gehad. Dit het heeltyd bie-die-bie-die-bie-die-ô-ô gesê. G'n mens sal weet hoekom nie. Maar ek was altyd effens bang, want die (baie duidelik van plasiek) aliens was vir my ‘n bietjie erg.
Ek onthou veral een keer baie goed: Daar was sulke groenerige monsters wat so uit die grond uit gedraai het. Jy staan nog so, dan pop een hier voor jou voete uit. Ek skat ek was seker so sewe of ag. (Ek het in die Karoo grootgeword. Ons sê ag sonder die t. Ons weet nie hoekom nie. Ons is dalk aliens.) Daardie nag droom ek hoe draai daai monster onder my bed uit. Later gaan kruip ek by my ma-hulle in. Maar ek het skaars geslaap, toe verskyn daar 'n deur in die muur en hier is die monster sowaar weer. Dit is meer as 25 jaar gelede en ek kan die droom nog so duidelik soos daglig onthou.
Buiten vir dié enkele nare ervaring was ons geesdriftige ondersteuners van alles wat net amper gelyk het asof dit "uit die toekoms" of "in die ruimte" was. Ek en almal so oud soos ek sal Interster baie goed onthou. Interster was die coolste ding wat ooit uit die SAUK gekom het. Dit was marionette, maar regtig goed gedoen. Daar was Kaptein De la Rey en ‘n luitenant wie se naam ek vergeet het. Die ruimtestasiehoofkwartier was in Kaapstad. Dit het oor slegs twee ruimtetuie beskik. Die ontvangsdame senaam was Lida. (Waarom sal jy ‘n ontvangsdame hê vir 'n ruimtestasie?)
Daar was ook ‘n professor en natuurlik ‘n robot. Dalk was dit hy wat bie-die-bie-die gesê het. Die kroeks was die beste. Die een was Prins Karnati en die ander een Doktor Gorman. Doktor Gorman het nogal ‘n bietjie op Mikhail Gorbachev getrek. Dit was immers die dae van die Rooi Gevaar.
Ook in hierdie dae was daar ‘n kort, eenmalige reeks getitel Alfa 1999. Wat veral snaaks is, is dat 1999 betreklik onwetenskaplik gekom en gegaan het. Ek onthou nog hoe ek destyds gedink het dat 1999 net so 15 of wat jaar weg is, en dan is dit verby met ons.
Natuurlik, deur dit alles, was daar Star Trek. In al sy wonderlike gedaantes, waarvan die bekendste die wedervarige van die Enterprise is. Die enigste ding van Star Trek wat my pla, is daardie uniforms. Dit is duidelik dat jy sterwend van die honger moet wees voordat jy ‘n bemanningslid van die Enterprise kan word. Seker maar om makliker te energise. Jy wil nie op ‘n gevaarlike planeet omring deur eenogige monsters vir die transporter beam wag en dan ontdek jou drillende dye hou jou terug nie...
Natuurlik kan jy nie ‘n SF-fan wees sonder om dat jy elke enkele episode van al die reekse van die X-files gekyk het nie. Maar my hart is nou nog seer daaroor; ek wil nie nou daaroor praat nie. Ek sien van tyd tot tyd kompetisies waar die gelukkige wenner die geleentheid gaan kry om die final frontier te gaan ontdek. Hulle verduidelik nie hoe dit gaan gebeur nie. (Ek vermoed ‘n vuurpyl op die rug.) Maar ek probeer maar nogtans probeer.
Want, the truth is out there.
Live long and prosper.
Bie-die-bie-die-bie-die.