Meisies kan soms ‘n eienaardige spesie wees. Hulle bestee spandeer ure voor die kas en die spieël om te besluit watter uitrusting gepas is vir die dag. Nee wat, teen Maandagoggend kan ek jou in detail vertel wat ek teen die einde van die week sal aanhê. My liefde vir klere het al op die ouderdom van drie begin toe ek my ma se kaste ingevaar het en met haar hoë hakke in die huis rond geloop het as tannie Hanneke.
Die klere wat mense aantrek as hulle uitgaan het my nog altyd in so ‘n mate gefassineer dat ek seker eendag ‘n tesis daaroor sal skryf. Dit is ook natuurlik my gunstling tydverdryf: ek sit in Kloofstraat of by die Waterfront vir ure en drink die een koppie koffie na die ander en verkyk my aan die verbygangers met hul moderampe. Die een vrou dra ‘n volledige denim pakkie, ‘n ander lyk soos ‘n kersboom met ‘n rooi hemp en groen romp en verwagtende dames wat nog nooit van kraamdrag gehoor het nie.
Ou omies wat kaalvoet rondloop laat my tot in die afgronde gril - en dan het hulle nie eers die ordentilikheid om hulle toonnaels te knip nie. Dis juis hulle wat my op laerskool laat nagmerries kry het oor hoe ek sonder skoene by die skool opdaag.
Dis hiér waar ek besluit het dat ek betrokke gaan raak by liefdadigheid. Ek gaan spieëls koop en uitdeel vir mense by winkelsentrums sodat hulle kan sien hoe hulle lyk voor hulle by die huis uit gaan.
In die Westerse dele van die wêreld verander die modes elke drie maande met die aanbreek van ‘n nuwe seisoen. Vroeë reisigers het berig dat die modes in Japan tot onlangs vir een duisend jaar dieselfde was. Nee, hier by ons werk dit so: Jy gaan eet nooit uit nie en koop single-ply toiletpapier om vir daardie rooi jas wat al lank jou oog vang te spaar, maar teen die tyd wat dit joune is, het die modes al verander en in die winkelvenster hang ‘n nuwe jas. Dit het daartoe gelei dat die meeste mense permanent ricoffee drink om te spaar en die arme boudjies moet maar daaronder ly.
So het elke streek ook sy eie tendense. Die Kapenaars trek nie dieselfde aan as die Johannesburgers nie en die Durbaniete is in ‘n klas van hul eie. Dan is daar dié wat van Kimberley afkomstig is. Meer as die helfde van my gebedsversoeke gaan aan hulle. SelfsHannon, ons eie glam guru, wys alle aansoeke van daardie omgewing weg.
My raad vir jou: moenie ten volle die nuutste modegiere volg nie. Koop uitrustings en kostuums in plaas van klere - tydlose kostuums wat nooit uit die mode sal gaan nie. Of jy Gucci, Woolworths of P-E-P Boutique se klere kan bekostig, dra slegs modieuse bykomstighede by daardie tydlose uitrustings. Dra helder klere en verbeel jou jy is in ‘n musical by West End en tooi jouself op met serpe, dasse, borsspelde en dra bypassende onderklere. En asseblief mense, kyk tog net vir jouself in die spieël voor jy die huis verlaat. Jy gaan my tyd geweldig spaar, want daar sal een minder persoon wees vir wie ek moet bid.