Voortrekkers. Wat dink jy? Ossewa? Kampvuur? Hier is meer oor die Voortrekkers van vandag.
Die etiket van oudtydse ossewadrywers laat die ongeveer 11,000 moderne Voortrekkers deesdae yskoud. Hulle is daaraan gewoond dat sommige kritici van Die Voortrekkers self agtergebly het en agterhaal is in hul kritiek. Dat hierdie mense eenvoudig nie tred gehou het met onlangse ontwikkelinge in Die Voortrekkers nie en nie eers bietjie moeite doen om uit te vind of hulle kritiek geldig is of nie.
Van die belangrikste moderne ontwikkelings in Die Voortrekkers is:
• Die Voortrekkers wil nie vir kinders net ‘n paar agterhaalde outydse tegnieke soos spoorsny en touknoop leer nie. Baie moderne Voortrekkers ken dit nie eers nie en is ook nie bedrewe vuurmakers nie. Moderne Voortrekkers konsentreer graag op karakterbou, spanwerk, avontuur in die buitelug en die ontwikkeling van leierskap onder Afrikanerkinders. Daarby skep ons ‘n platvorm vir die standpunte van die Afrikanerjeug en word hulle dikwels in die media aangehaal. ‘n Platvorm wat die jong Afrikaner nie elders kry nie. Ons wil nie toelaat dat die jong Afrikaner in hierdie opsig soos die ouer Afrikaner gemarginaliseer word nie. Hierdie standpunte word ook uitgedra in multi-kulturele kontak.
• Vra die hoërskoolkind in Die Voortrekkers: wat maak Voortrekkers uniek? Hulle antwoord vandag: ons is soos ‘n groot familie. Ons deel dieselfde waardes en het dieselfde passie vir Afrikaans, Afrikaanse musiek, Suid-Afrika en kampe. As ‘n klomp van ons uit die Noord-, Oos- of Wes-Kaap, Natal, die Vrystaat, Namibië of noord van die Vaalrivier vir ‘n gesamentlike kamp aanmeld, bind ons sommer die eerste aand. Al ken ons nie mekaar se name of gesigte nie.
• Die Voortrekkers het sonder groot bohaai al in 1993 die woordjie "blank" as ‘n vereiste vir lidmaatskap uit sy grondwet gehaal. Vir Die Voortrekkers gaan dit om ‘n vrywillige assosiasie met Afrikanerkultuur. Ons soek jonges wat assosieer met ons kultuur afgesien van hulle ras of uiterlike voorkoms. Daarom kry gekleurde Afrikanertjies in Die Voortrekkers deesdae ook die gewone toekennings.
• Voortrekkers het wegbeweeg van militêre gebruike. Daarom is daar minder klem op paradewerk en dril en meer op kleurryke seremonies met simboliek, bewegings en moderne Afrikaanse musiek. Dinge wat die kinders aanspreek en iets van hulle self sê. Op die onlangse De la Reytoer deur Noordwes is ‘n monument een laatmiddag by De Klipdrift, die plek van genl De la Rey se laaste veldslag teen die Engelse in Maart 1902, onthul. Toe die moderne lied "Ons vir jou..." oor die luidspreker gespeel is, het die 143 jong Voortrekkers spontaan op aandag gekom. Vir hulle was dit modern, positief en konsekwent. Iets wat van hulleself praat en tot hulle innerlike spreek.
• Voortrekkers het ook nie meer uniforms nie, maar gevarieerde Voortrekkerdrag. Daar is die meer formele en grasieuse blou drag. Daar is egter ook die informele t-hempdrag. Kampe, kommando's en selfs spanne in kommando's ontwikkel ook hulle eie uitkenningshempies of pette. Dit alles getuig van ‘n nuwe trots en liefde vir hierdie organisasie wat ons nie ‘n vereniging nie, maar ‘n beweging noem. Ons beweeg vorentoe saam met die tyd, maar so dat ons ook ‘n eie moderne stempel op die dinge rondom ons afdruk.
• Die moderne Voortrekker leer om sy Christenskap prakties op die dinge wat hy elke dag doen, toe te pas. Daarom getuig senior Verkenners in die hoërskool dat Die Voortrekkers hulle geloof verdiep en laat groei. Dat laataand afsluitings in die veld en Bybelstudies in spanne hulle geestelik opbou.
• Die moderne Voortrekker glo dat konsekwente Christene se assosiasie met die Afrikaner en hulle burgerskap van ‘n land deur hulle Christenskap bepaal moet word. Hulle geestelike balans, ervaring om mense in groepe te hanteer en skoling vir die lewe, bring hulle in aanvraag vir werk na skool en ander opleiding.
Voortrekkers skep ‘n omgewing vir mensontwikkeling, beskik oor die steun van baie ouers én gesonde rolmodelle binne en buite die beweging en spreek ons kinders se "behoort aan"-behoeftes aan.