www.jip.co.za

Mensdom teen die natuur

Ek voel siek. Hondsiek.

Ek wens daar was die een of ander iets wat op 'n mikroskopiese vlak in my liggaam kon ingaan en eenvoudig al die kieme opeet. Gelukkig is ons nie ver daarvan weg nie. Prys die Heer! Of die wetenskap? Op die oomblik gee ek nie om nie. As daar iets is wat my kan genees, bring dit asseblief na vore.

Op 21 Mei het dr. Craig Venter aan die wêreld bekend gemaak dat die eerste sintetiese sel ontwerp is. Hulle het kort, eenvoudige stukkies DNS gekodeer met mensgemaakte aminosure en dit in 'n bestaande gis-sel gesit om sy oorspronklike DNS te vervang. Hulle het gevind die sel neem die vorm aan wat die sintetiese chromosoom dikteer.

Volgens my is dit 'n wonderwerk. Dis asof ons besig is om die programmeringstaal van die heelal te hack. Dit lei tot 'n hele paar interessante kwessies. Waar eindig die biologiese en begin die meganiese? Is dit die mensdom teen God en wat gebeur as hierdie tegnologie in die verkeerde of selfs onkundige hande beland?

Die laaste vraag is die belangrikste. Hoewel atoombomme grootskaalse verwoesting kan saai, kan wapens op mikroskopiese vlak soveel meer skade aanrig.
Aan die ander kant kan geprogrammeerde bakterieë massiewe deurbrake in medisyne, bio-brandstowwe en uiteindelik die stryd teen aardverhitting beteken. Maar was ons werklik nog nooit in beheer van enigiets nie?


Die wetenskaplikes sê hulle het die sel geleer om te tel, en nadat die sel 'n sekere hoeveelheid werkies verrig het, is hy geprogrammeer om homself te vernietig en dus die probleem van chaotiese mutasie outomaties op te los. Hulle erken dit het nog nie elke keer gewerk nie, wat baie gerusstellend is.

Ons weet nou al hoe dié wetenskaplikes se breine werk. Voordat hulle enigiets op mense toets, pas hulle dit eers op sjimpansees toe.
Sjimpansees se genetiese struktuur is feitlik identies aan ons s'n. Hulle is ook een van die min spesies, indien nie die enigste ander spesie nie, wat daaruit genot put om naburige samelewings uit te moor. Hulle is ook 'n goeie voorbeeld van hoe die mensdom dink hy kan beheer handhaaf, maar uiteindelik misluk. Dan ruk die natuur die mensdom se gesig af.

In 2009 het 'n vrou se troetel-sjimpansee, Travis, ná 'n glasie wyn, middagete en roomys, sy eienaar se sleutels gevat en homself uitgelaat. Toe die eienaar se vriendin opdaag om na Travis te help soek, het hy haar aangerand.

Daar is in 1970 laas sjimpansees na Amerika ingevoer. Daar is ongeveer 1 000 sjimpansees wat tans in mediese navorsing gebruik word, en almal van hulle onder die ouderdom van 30 jaar was nog nooit in die natuur nie. Hulle weet dus nie hoe om werklik sjimpansees te wees nie.

Hulle kyk TV, doen karate, is akteurs, gebruik power tools en speel video games. En nie een van die wetenskaplikes het gedink dit gaan gebeur nie!

Met die gevolg dat ons nou met 'n nuwe sjimpansee-spesie sit, die Amerikaanse sjimpansee. 'n Sjimpansee is harig, raserig en weeg omtrent 50 kg. en mense verloor in breukdeel van 'n sekonde beheer oor hulle. Wat gaan gebeur as dié nuwe biomeganiese tegnologie 99% van die tyd werk?

En hoe keer ons dan iets wat 'n mens nie eens kan sien nie?



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.