Dis blerrie koud vanoggend en toe ek in die stort was, het ek gedink aan hoe die regte lewe niks soos hoërskool is nie.
Dankie tog daarvoor.
Ek was altyd laat.
Dis net te moeilik om uit die bed uit op te staan as dit so lekker reën. (Ek stel voor jy kry 'n werk waar jy jou eie ure kan kies.)
Stel jouself gou voor dat die lewe net soos hoërskool is. Ek is baie bly ek hoef nie twee keer 'n week saal toe te gaan in die burgersentrum nie. L.O.-periodes (vroeër jare se oefensessies) sou interessant wees. 'n Mens sou volgens wyk ingedeel wees, met 'n wykskaptein.
Ek sal eintlik graag 'n uniform wil hê, net omdat dit onnodige breinkrag verg om elke oggend te besluit wat om aan te trek. Dit klink vir my taamlik kommunisties.
Hoërskool ís taamlik kommunisties. Ek dink ons moet daai kinders aan die werk sit. Soos in tronke. Gee hulle iets om te doen, man.
Zippo's bou of iets. Ek onthou dat ek die meeste van die tyd op skool verveeld was.
As hulle werk, kan hulle van 'n jong ouderdom af geld begin verdien om vir hulself te betaal om universiteit toe te gaan en dan kan daar sommer 'n vak wees wat jou leer wat om met jou geld te maak en hoe om dit slim te bestee.
Daai hele punte-ding was nooit regtig genoeg aanmoediging vir my om te probeer presteer nie. Ek wens die skool het 'n mens meer geleer oor belasting uitsorteer en met versekeringsmaatskappye onderhandel.
Ek is bly ek het nie nou vakke wat nie werklik betrekking het op enigiets relevant nie. Eintlik dink ek hoërskool mors net baie van jou tyd.
Bill Bryson het 'n boek geskryf met die titel A Short History Of Nearly Everything en dit vervang basies die hele sillabus. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Niemand moet die skool of sy of haar studies net so los of so nie.
Jou kanse om 'n goeie bestaan vir jouself te maak, daal drasties as jy nie 'n matrieksertifikaat het nie. Net soos enigiets anders moet die doel nie wees om die minimum vereistes te bereik nie, maar wel om die beste diens te lewer wat moontlik is.
En ek dink ons skoolstelsel is argaïes.
Dis asof die stelsel steeds mik om pennelekkers, dokters, prokureurs en ingenieurs te kweek. Wat alles goed en wel is, want ons het hulle nodig, maar daar's soveel meer loopbaanopsies waarvan kinders nooit bewus is nie.
Ek dink tieners, of enige iemand for that matter, weet nie wat hulle wil doen nie, omdat die opsies so beperk lyk.
Aan die ander kant is van die suksesvolste en interessantste mense wat ek ken, lankal klaar met skool, en hulle weet steeds nie regtig wat hulle met hul lewe wil doen nie.