‘n Werklose Fransman is in hegtenis geneem nadat hy die Twitter-rekeninge van die Amerikaanse president Barack Obama en die sangeres Britney Spears geteiken het, het die Franse polisie Woensdag gesê.
Volgens kpt. Adeline Champagnat, ‘n senior lid van die polisie se kubermisdaadeenheid, het die 25-jarige man toegang tot die wagwoorde van Twitter administrateurs gekry en hulle gebruik om die rekeninge van Amerikaanse politici en sterre te probeer kraak.
"Hy het nie in hul persoonlike rekeninge gekom nie, maar hy het beheer oor Twitter gekry," het sy aan Reuters vertel.
Volgens Champagnat het die FBI verlede Julie die Franse polisie in kennis gestel dat een of meer mense probeer het om toegang tot Twitter te kry en het beheer oor die sosiale netwerk gekry. Hierdie het die kuberkrakers in staat gestel om rekeninge te skep en uit te vee asook om vertroulike inligting te steel.
Die kuberkraker, wat aanlyn as HackerCroll bekend staan, is in die Franse stad van Clermont Ferrand in hegtenis geneem.
Volgens Champagnat was die man, wat al voorheen internetbedrog gepleeg het, aangemoedig deur die opwinding van die uitdaging om die rekeninge te kraak.
Hy was ook glo meer geïnteresseerd in die private lewens van sy slagoffers as om sensitiewe data te kry.
"Sy doel was nie om geld te maak nie. Sy doel was eenvoudig om te wys dat hy die vermoë het om toegang tot die rekeninge van Twitter-lede kan kry," het sy gesê.