Ek het vanoggend vir die eerste keer vanjaar aan die Nuwejaarsvoornemens gedink wat ek sover behaal het:
- voorbladberig;
- gevry met 'n ou van 2 m lank;
- opgehou rook (en toe weer begin);
- foto met Steve Hofmeyr; en
- iets gedoen wat my bang gemaak het.
Ja . . .
Ek en my suster het ge-roadtrip Plettenbergbaai toe. Sonder enige planne of idee van waarheen die pad ons sal neem. Dit is iets wat twee susters bloot net dóén.
Dit het die oggend begin reën toe ons verby Bloukrans ry.
"Moet ek stop?" het sy gevra.
"Ja," het ek geantwoord sonder om in haar rigting te kyk.
Iets het my gesê ek moet spring.
Want as ek nie sou spring nie, sou ek vir ewig spyt wees, het ek myself probeer moed inpraat.
Ek het gaan af loer. Dit was bleddie hoog. Ek het afgekyk en gewonder of my lyk herkenbaar hieruit sou kom.
Wat sal die koerante skryf? "Jong joernalis (goeie alliterasie, Carryn) se laaste sprong." Of nee, wag: "Ster-joernalis val tot in haar graf."
Terwyl ek nog opskrifte vir my eie doodsberig uitdink, begin die reën val. Nou moet ek besluit.
Ek het nog 'n keer na die pryse gekyk, my lip gebyt en teruggestap kar toe. Maar ek het gewroeg oor my spytwees wat later sou kom.
Weer is ek terug brug toe soos 'n cheating lover wat sy girlfriend wil terughê.
Toe ek my weer kom kry, het ek betaal, my dik lyf geweeg, 'n vrywaringspapier onderteken en met jelliebene weer by die brug gaan staan.
So 'n Engelspratende man het my begin vasmaak. Eers hier om my middel. Toe weer 'n keer. Diepe verduidelikings gegee oor die apparaatjies wat 'n hele ton se gewig kan dra. Ek wou hom vra of hy iets probeer sê het oor my gewig, maar het stilgebly.
Soos die springtyd nader getik het, het ek my brawe gevreet opgeplak. Maar binne was ek bang.
"Waarom wil jy afspring?" het die Engelse man my gedagtes onderbreek.
"Ek wil nie spyt wees dat ek dit nie gedoen het nie," het ek met 'n bewerige stem gesê.
"Is jy seker jy wil dit doen?"
"Ja."
En hy het agter my gestaan en my styf teen hom vasgetrek sodat die tou wat aan die brug oorkant gekoppel was, kon styftrek.
En my laaste gedagte was dat ek die man agter my kon, uhm, voel . . .
Maar ek moes vir my gedagtes lag. En ek is toe met 'n giggel van die brug af. En dit was die béste gevoel, selfs beter as 'n voorbladberig. Of 'n goeie opskrif met alliterasie.