www.jip.co.za

Maak soos Wolf en bláás vir die varkies

As daar nou een beroep is waar 'n man (en deesdae vrou) jou vrinne van skynheilige omstanders kan skei, is dit dié van skeidsregter - vernaam in rappievoetbal.

Vanaand braai julle saam 'n vleisie, maak onderling 'n paar grappies en waag voorspellings vir Saterdag se TV-wedstryd.

Maar helletjie, blaas jy môre sy span (volgens sy reëlboek) uit die wedstryd, vloek hy jou stamboom dat die gladde bas skurf trek en die wortels uitdroog.

Jy maak of jy hom nie hoor nie, maar gespitste ore, dié het jy wel. En jy onthou hom, sy opmerking, waar hy slaap en hoeveel die vorige aand se braai jou gekos het.

Maar die drie bly staan, of die bal is steeds in die lug. Die skrum het vanselwers geval, of hy is gemáák val. Die verdediger lê in die pad, of hy kan doodeenvoudig nie wegrol nie. Die eerste speler ná die verdediger voer 'n wettige balroof uit, of sy hande het betrokke geraak nadat die losskrum gevorm het. Split-sekondes, ek sê!

Die speler aan die ander kant van die losskrum hou 'n verdediger terug, of die toeskouers verwittig jou sonder eerbare motiewe daarvan.

"Ek het dit nie gesien nie, anders het ek dit geblaas," is die regte antwoord, maar nie die een wat die speler of sy glurende vriende langs die veld wil hoor nie.

Dit is hoekom daar 'n skeidsregter is. Nie sodat daar 'n teiken vir die ongetemde toeskouers se gifpyle kan wees nie.

Want 'n spel tussen 30 omgesukkelde kêrels, skrummies en klein vleuels inkluis, verlang 'n dienaar van die gereg én die geregtigheid (aan Jan Spies ontleen). Iemand wat die wet kan neerlê - watter nuwe stel reëls dit ook al is.

Daar was 'n tyd op universiteit dat ek drie stelle in 'n enkele week moes blaas: dié vir skoolkinders, dié vir studente wat hulle soos skoolkinders gedra, en dié vir grootmense wat wens dat hulle nog skoolkinders was.

'n Begrip van die mens in al sy fatsoene, nukke en trekke is dus 'n voorvereiste vir die man (of vrou) wat aan die stuur van die fluit staan.

En jy moet wees soos wyle Dok Craven gesê het: kleiner as die spel. Jy wag nie totdat jou blad geskud word nie. Jy gee pad en loop stort jouself - bevoorreg in die wete dat nog 'n wedstryd met jou bemiddeling gespeel kon word.

Om dié fluitjie te speel hoef jy boonop nie musikaal te wees nie - net in voeling met die ritme van die spel. Die spelers sorg vir die res.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.