Die kwas ritsel in die water terwyl sy die oortolige kleur afroer. Dan suig die swart afkrielverf aan die fyn swart haartjies vas. Sy skrop 'n skraal lyntjie hier en dan 'n dik een daar. 'n Halfuur later draai sy tevrede om. Stomgeslaan kyk ek na diè ding en wonder wat het sy aangevang. Dan giggle sy by haarself en draai die skildery om, om haar meesterstuk (wat nou sin maak) te onthul.
In een oomblik word my "perfekte" lewetjie omgegooi: ek word afgedank by die werk, my ou los my en ek druip my wiskunde toets.
Dit is toe waar ek besef dat my vriendin se canvas die spieël van my lewe is. Terwyl my lewe onderstebo in flensters hang, het alles net soveel meer sin gemaak.
Met die resessie, dwelms, misdaad en moord is die wêreld op sy kop gekeer. Soos die bedompige besoedelde lug, raak ons gewoond daaraan en na 'n lang ruk selfs onbewus daarvan. Die skote wat laatnag in die strate gevuur word, is die melodie wat ons aan die slaap sing. Die oliebesmette wegneemetes is die enigste manier om ons mae vol te kry. Sigarette, drank en losbandigheid is die enigste manier om ons "ware" vriende te vind. Die dinge wat werklik vir ons belangrik moet wees soos waardes, geloof en familie het weggeraak in hierdie deurmekaar wêreld.
Ek is bly dat my werk, my (eks) ou en my bo-gemiddelde punt van 23% my lewe omgekeer het. Ek het alles vanselfsprekend aanvaar en eers toe ek dit verloor het, het ek besef wat ek gehad het. Nou strewe ek vir dinge wat moet saak maak. Ek het ophou wonder wat ek alles kon gewees het en ek het alles begin waardeer.
Dalk moet jy vandag na jou wêreld gaan kyk en sien of dinge wat jy dink onderstebo is, nie eintlik die regte kant om is nie.
Groete, Emma Stander van Helpmekaar Kollege, Johannesburg.