www.jip.co.za

Korrespondensie uit die oog van die storm. vol. 3

Iewers op die Suidkus is daar 'n stuk veld wat tussen 'n skoenfabriek en 'n kinderwelsyngebou lê. Die veld se gras is dik en groen en grens aan die een kant teen die Grootbrakrivier. Vir die meeste van die jaar is hierdie stuk veld leeg. Sedert laasjaar gebruik ons egter hierdie veld as ons hoofkwartiere vir die meeste van die toer. Dit beteken dat daar uit die bloute uit op enige gegewe oomblik in Desember, eweskielik 50 tente, 2 busse, 'n trok, en 'n 120 seerowers en musikante verskyn. Die influx van feesgangers en partytjiemakers beteken baie vir die dorp se toerisme. Die winkelrakke bly leeg, die drankwinkel hardloop uit voorraad uit en selfs die dokters word van hulle familiebraais af na hul praktyke toe teruggeroep om mangelontstekings, snye en sonsteek te behandel.

Vanaf ons nuwe hoofkwartiere het ons die streek daagliks met musiek gebombardeer. Gisteraand was Hartenbos. Ons het in die hartjie van die ATKV-land 'n rock konsert in 'n skoffelskuur op die been gebring. Hoewel geen alkohol op die terrein toegelaat is nie, het die partytjie "geloop soos stroop" en het van die seerowers selfs op die waterwurm en ander pretparkritte gaan baljaar.


Ons het vanoggend vir oulaas 'n spanfoto by die kampplek geneem en het toe die lang pad Jeffrey's Baai toe aangedurf. Meeste van ons het die heelpad geslaap om 'n bietjie ons energie te spaar, want vanaand laat ons sewe soorte partytjies in Jbay los. Soos ek hier sit en tik het die musiek reeds begin, en die mense is besig om in te stroom. Vanaad gebruik ons die klassieke "in out" oorlogvoeringstegniek. Die musiek hou aan tot 02:00 en dan hop ons almal weer op die bus en vertrek op 'n deurnagrit Hermanus toe. Hopelik word Jbay moreoggend wakker en weet nie wat hulle getref het nie.


Ons het 'n vinnige stemming op die bus hierheen gehad en dit was 120 teen 0 ingestem dat ons vir die res van 2010 gaan aanhou toer. As die musiek nie ophou nie, hoef die wiele nie op te hou rol nie. Ons het nog genoeg wyn en kos om ons tot in Februarie te vat, en van daar af gaan ons maar kyk waarheen die wind en die gees ons vat.


Ons gaan vanaand van 10 af aftel na die nuwejaar toe. Elke nommer wat verby flits, verteenwoordig een van die bands op toer. Elke band op toer verteenwoordig 'n klomp seerowers op toer. Elke seerower op toer verteenwoordig 'n deel van ons land. Ons mengelpot het alle kulture, rasse, klasse en asjasse in en in die nuwejaar wil ons daai mengelpot begin vir die res van die land voer.


Ons sien julle in die nuwejaar. Iewers op die lang pad. Kyk uit vir twee busse wat deur die verkeer vleg en waarby nie eens polisiekarre kan byhou nie. Kyk uit vir ons waar ookal jy gaan, want van nou af is orals seerowerkontrei. Is jy met my?


 




www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.