www.jip.co.za

‘Komedie’ skiet veels te kort

Just Wright
Romantiese komedie


Met: Queen Latifah, Common
Regie: Sanaa Hamri


Jy, die leser, en ek, die skrywer, kan na aanleiding van dié fliek vir 'n slag reguit praat.
Almal het die behoefte aan liefde en romanse, hoewel dié twee bitter min met mekaar in gemeen het.


'n Filosoof het al geskryf oor hoe liefde die misterie omtrent jouself én die ander persoon afbreek. Wanneer jy jou hele wese aan iemand anders blootstel, is jy uiters kwesbaar. Pyn en verwerping kan volg. Neem jy die samelewing se reëls op die liefdespad in ag terwyl jy aan't veg bly om teleurstelling van jou af weg te hou, verpas jy dalk die goedvoel-geheimenisse én die avontuur rondom die liefde.


In hierdie Aspoester-verhaaltjie ontmoet ons vir Leslie Wright (Queen Latifah), wat al so 'n paar dingetjies omtrent die (liefdes)lewe weet. Sy's 35 en 'n toegewyde fisioterapeut wat by haar ouers bly.


Leslie is vergenoeg met haarself. Dis 'n objektiewe standpunt en só hou sy voorts die gevaar van 'n gebroke hart op 'n afstand. Wanneer sy op 'n dag vir Scott McKnight (die rapper Common), 'n erg beseerde top-liga-speler in basketbal, moet begin behandel om sy professionele loopbaan weer op dreef te kry, dink Scott hy skuld Leslie iets. Maar Leslie weet die teendeel is waar. Professionele "afstand" het sy voordele.


Wat kort tevore gebeur het, staal haar nog verder. Haar peetsussie en beste vriendin, die mooi, dun Morgan Alexander (Paula Patton), se blitsromanse en troue met Scott, die volk en veral vroue se sportheld, het op die rotse geloop toe sy roem weens sy besering begin taan het en Morgan nie meer die kollig met hom kon of wou deel nie. Die "val" van dié trofeevrou was net te traumaties om te aanskou ...


Waarmee sit ons uiteindelik met Just Wright?
Redelik deurdagte en afgeronde spel deur Queen Latifah, die enigste mens in dié rolverdeling wat enduit waardigheid behou. Common is helaas nie juis veel meer as 'n bondel spiere met 'n wit stel tande wat lyk of dit op sy gesig geplak is nie (dis nou wanneer hy wel sy mond oopmaak). Realistiese emosies ontwyk hom.


Die dialoog is bloedarmoedig. As die Amerikaners hiervoor lag, sê dit alles oor hulle. Intuïsie vertel jou ook dat met effens meer moeite, herskryf, herskiet en dalk meer drastiese redigering, die geheel beter en selfs meer genotlik sou kon wees.
 
Ouderdomsperk: OL. Tydsduur: 100 minute.


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.