Ek het net twee keuses.
Ek kan óf van die krans af spring en hoop dat die rivier diep genoeg is dat ek myself nie doodval nie, óf ek kan omdraai en die reuse-oerwoud-spinnekoppe met my kruisboog aanvat.
Dis pikdonker en ek hoor hoe die gediertetjies deur die bome in my rigting kom.
Hul oë glinster in die maanlig, en daar drup gif uit hul harige kake.
Ek is skytbang vir spinnekoppe, en daar is meer van hulle as wat daar pyle in my kruisboog is.
Ek neem my besluit.
Ek spring.
Ek blaai na bladsy 164 en besef dadelik ek het 'n fout gemaak. Daar is net een paragraaf op bladsy 164 en dit eindig met my wat deur 'n krokodil opgevreet word.
My linkerpinkie is egter nog op bladsy 55 - op die krans met die reuse-oerwoudspinnekoppe.
Niemand sal weet as ek terugblaai nie.
Ek is die held in hierdie verhaal. Ek kan nie nou al doodgaan nie.
Tyd word teruggedraai. Ek's weer bo-op die krans.
Hierdie keer besluit ek om my man te staan.
Ek blaai na bladsy 78 waar `n meisie met 'n masjiengeweer net betyds opdaag om my uit die kake van die spinnekoppe te red. Ek is dadelik smoorverlief en neem haar saam met my na bladsy 111.
In 'n stadium was Choose Your Own Adventure die enigste boeke wat ek gelees het.
Dit was so verslawend soos tik en so opwindend soos `n rollercoaster sonder brieke.
Terwyl ander kinders Sweet Valley High en Goosebumps gelees het, het ek agter in die biblioteek gesit en sweet oor die keuse om my ruimtetuig in 'n swart gat in te vlieg, of eerder in 'n oorlog op die maan te gaan veg.
Dinge kon enige kant toe gaan en om elke hoek en draai het die dood gelê en wag.
Min dinge het my op daardie ouderdom so aan die mens se verganklikheid blootgestel.
Dis 'n belangrike les om te leer.
As daar 'n vurk in die pad is moet jy 'n rigting kies, en daardie keuse mag dalk in die baie nabye toekoms na jou dood lei.
Anders as in die boeke kan 'n mens ongelukkig nie in die regte wêreld terugblaai nie.
Die slegte keuses wat jy nou maak, bly by jou.
Die belangrikste les was egter die blote feit dat jy self in beheer van jou eie lewe is.
Jy kies as' t ware jou eie avontuur.
Ek weet nie of hulle vandag nog Choose Your Own Adventure-boeke uitreik nie. Veral nie met Twilight en Harry Potter wat so gewild is nie.
Dink net hoe snaaks dit sou wees as 'n verkeerde keuse op bladsy 13 sorg dat jy en Harry deur Voldemort vermoor word, of dat Bella deur die weerwolwe opgevreet word.