www.jip.co.za

KKNK gons oor Zoid en lesbiese redaktrise

Die knaende gerugte oor die rocksangeres Karen Zoid se beweerde lesbiese verhouding met die Kaapstadse tydskrifredakteur Carien Loubser is by die KKNK op die spits gedryf toe Loubser erken het sy is gay.

Zoid wou nie kommentaar lewer nie, maar nadat Loubser gister met haar gesels het oor 'n moontlike onderhoud met Die Burger, het sy verkies om haar privaatheid te beskerm en by monde van Loubser te praat.

Zoid en Loubser het besluit om geen uitlating te maak oor hul verhouding nie omdat hulle dit as 'n private kwessie beskou.

Albei was op die Absa-verhoog besig met voorbereidingswerk vir Zoid se optrede later gistermiddag toe hulle vir kommentaar genader is. Loubser is 'n vervaardiger, entrepreneur en redakteur van die tydskrif Bravo!

"Ek dink ons sal seker een of ­ander tyd die regte ding sê. Ons is al tien jaar lank in 'n vriendskapsverhouding. Ja, ek is gay.

"Ja, daar is al lankal genoem sy (Zoid) het in die verlede verhoudings met vroue gehad. Nee, dit het niks met die verbrokkeling van haar huwelik te doen nie."

Dit is wel duidelik dat Loubser en Zoid 'n hegte band het. Loubser het bekend gemaak Zoid begin nou 'n rolprent saam met Franz Marx skiet en is deur 'n kontrak verbind.

As gevolg daarvan gaan sy nie nou in die openbaar kommentaar lewer nie.

"Wat sy met mense wil deel, is haar musiek."

Oor Zoid se verbrokkelde huwelik met die kitaarspeler Don Reinecke het Loubser gesê dié egpaar is op goeie voet uitmekaar en daar is geen "hard feelings" nie.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.