"Wié is al hierdie ongekwalifiseerde (joernaliste) wat gestuur word na 'n plek waar ek my salaris kry? Dit is mos nie 'n basaar of konsert nie. Dis sommige kunstenaars se salaris vir die jaar! My vraag bly: Wat de hel soek hulle daar?"
In die een hoek - en aan die praat - staan Steve Hofmeyr.
In die ander hoek, resensente.
Hofmeyr het gister hierdie vrae gevra as deel van Die Burger Praat Saam se gespreksreeks, met die vraag: Speel resensente die man of die bal?
Hofmeyr en Jan-Jan Joubert, politieke redakteur van Rapport, was in 2002 in 'n onderonsie betrokke toe Hofmeyr Joubert met sy vuiste bygekom het ná 'n resensie in Krit wat onder meer verwys het na Hofmeyr se lelike skoene.
Joubert het nie die resensie geskryf nie, maar was redakteur van Krit.
Hofmeyr en Joubert het intussen vrede gemaak.
Johan Myburg, kurator van visuele kuns by die Absa KKNK, die akteur Christo Davids, en Eduard Greyling, 'n voormalige danser en vryskut-resensent het aan gister se gesprek deelgeneem.
Vroeër vanjaar het die aktrise Vinette Ebrahim gal afgegaan teen 'n resensent se sinspeling dat sepiesterre dalk nie die mas op die verhoog opkom nie. Die resensent het na die verhoogstuk, Krismis van Map Jacobs, verwys.
Daar moet kritiek wees, ja, maar staaf jouself en wees ingelig, was die opsomming van die drie sprekers.
"Ek dink nie iemand het ooit 'n objektiewe mening nie. Ek dink nie daar is plek vir opinies nie, maar eerder 'n ingeligte mening.
Die probleem vir my is dat die poel resensente in ons land baie klein is," het Myburg gesê.
Die rol van die resensent is volgens hom 'n goed ingeligte skrywer wat "meer moet weet as die leser".
"Die skrywer moet die werk en die dissipline van die kunstenaar ken. Soms kan dit lyk asof die man gespeel word. Ons leef in 'n tyd van celeb-status waar kunstenaars groter raak as hul werk."
Davids, wat hier in Chris Vorster se Adam September en die Naxi-skat speel, het terruggekap ná die herrie oor sepie-akteurs wat in toneelstukke speel.
"Ek voel partykeer kry jy nie die perfekte toneelstuk nie, maar as resensente hul opinies gee, moet die persoon navorsing doen oor die toneelstuk. Ek het nie 'n probleem met kritiek nie, solank jy verduidelik waarom jy só sê."
Die akteur, wat veral bekend is vir sy rol as Errol in 7de Laan, wil 'n aktéúr genoem word.
"Die neiging is dat jy nie as 'n volwaardige akteur gereken word as jy ook in sepies speel nie. Wat gee koerantmense die indruk om te sê ‘moenie oor hulle (sepiesterre) worry nie'.
"Wat is die verskil tussen die twee mediums? Ek geniet absoluut my werk as 'n akteur - moet my nie in 'n boks plaas nie."
Volgens Myburg is daar nie plek vir opiniestukke nie, maar moet die resensent eerder 'n ingeligte mening gee.
"Ek dink dat resensente dikwels 'n byltjie te slyp het met iemand en nie noodwendig oor die saak waaroor hulle skryf nie.
"Ek sou graag wil hê dat (joernaliste) wegbly van ‘ek het nie hiervan gehou nie'."
Hofmeyr het met 'n glimlag vertel dat hy en Joubert nou vriende is, maar net omdat hulle oor niks kan saamstem nie.
Op 'n ernstiger noot het hy gesê: "Die rol van resensente het 'n effek op die gemeenskap. Die media het alles geword. Ons het al die media geword met ons blogs en Facebook."
Hy wou weet wie die "ongekwalifiseerde mense" is wat na produksies gestuur word. Dit is kunstenaars se werk, het hy beklemtoon.
Joubert, wat langs Hofmeyr in die gehoor gesit het, het gesê op die ou end is resensies ook net 'n mening.
Koerante stuur mense uit wat hulle glo reg is vir die werk. Hy het hom by Myburg aangesluit dat joernaliste met nederigheid en deernis moet resenseer.
*Lees elke dag die Krit-feeskoerant vir al die nuus by die KKNK.