www.jip.co.za

KKNK: Sukses of nie?

‘n ALGEMENE konsensus onder feesgangers met wie Krit gister gepraat het, stem saam dat vanjaar se KKNK in vele opsigte 'n sukses is.
Die oud-Springbokspeler Breyton Paulse sê die weer het saamgespeel, die kos is lekker, die verblyf is eerste klas en dat hy geen rassistiese opmerkings gehoor het nie.

"Parkeerplek is steeds 'n probleem, maar Oudtshoorn is klein. Dit is dus verstaanbaar".

'n Anonieme feesganger van Riversdal sê die KKNK is besig om sy volwassenheid te bereik. "Mense is nou gewoond aan die fees. Daar is wel minder mense, maar dit is beter so. Dit skep baie spasie om ongesteurd deur die stalletjies te wandel. Die kos is lekker en mense van oral geniet die fees. Dit is 'n lekker jol."

Mnr. Koos Hermanus van die Strand sê hy het nie sy sonbrandmiddel nodig gehad nie. "Ek het 'n bloedig warm fees verwag. Ek is verras".

Volgens mnr. Bongani Fani verstaan hy nie eintlik Afrikaans nie, "maar die fees is cool".
"Die kos is lekker en die mense is vriendelik. As 'n swart mens van Joburg is ek gelukkig hier tussen al die Afrikaanse mense. Ons is 'n rainbow-fees."

Me. Ronelda Abrahams van Mitchell's Plain in die Kaap het gesê die toegangskaartjies en die kos oor die algemeen is baie duur, "maar ek het darem 'n paar nuwe mense ontmoet. Dit is vir my 'n hoogtepunt".

'n Joernalis van 'n gemeenskapskoerant het egter gekla oor die "ontoeganglikheid" van die kommunikasie-kantoor van die KKNK. "Dit is uiters moeilik om reaksie op jou vrae van hulle te kry."

Mnr. Brett Pyper, uitvoerende hoofbeampte van die KKNK, het vroeër aan Krit gesê hy sal die kommunikasie-kantoor se span inroep om dinge reg te ruk.
"Ons werk daaraan. Dit kan ek jou verseker."

*Kry elke dag jou Krit-feeskoerant by die KKNK.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.