www.jip.co.za

KKNK: Met groot fanfare feesvoos

Jinne, nou kan die fees maar ophou.

Ek lê en tik hier met een oop oog, 'n paar bier-burps van gisteraand wat in die lug hang, en 'n vreemde deuntjie van Toeter op my waterskoeter wat nie uit my kop wil tjaila nie.

Ek's uitgefees. Moeg. Heeltemal poegaai.

Ek mis my bed en my ma wat my soggens met koffie wakker maak en my badwater daarna tap en dan my brood inpak en my koebaai-klapsoen werk toe. Ek mis my earbuds wat ek by die huis vergeet het. Ek mis dit om in my eie kamer te kan rook.

En. Ek. Mis. Slaap.

Ek belowe myself elke jaar drie dinge as ek KKNK toe kom:

Een, dat dit my laaste jaar is by die KKNK.
Twee, ek gaan volgende jaar maer wees as ek kom.
En ek gaan een of ander bêktrek-sanger 'n PK gee. Gaan soek in die woordeboek op wat dit beteken.

Vanjaar is my vierde jaar by die fees.
En ek is nogsteeds dik.
Ek is nie die wêreld se grootste toneel- of musiekkenner nie. Ek ondersteun die kunste ja, maar ek reken myself definitief nie as 'n kenner op enige gebied nie.
Naaaaaaaai.

Ek is hier om weg te kom van die huis af. Om La Dolce Vita se Ostrich Extravaganza's te kom beproef, roosterbrode en pannekoek met sous wat tot my elmboë tap te verorber, en yskoue Jägermeisters te kom sluk. (Dan wonder ek nog hoekom ek dik is. . .)

Ek is hier om nuwe mense van oor die land onder een maanlig te kom ontmoet en saam te kuier.

En ek is hier om vir David Kramer te hoor.

Ek en my vriend, Die Generaal, het hierdie ding omtrent die fees: Ons wil op niks uitmis nie.
En ek dink ons track-record is 'n goeie bewysstuk.

Want sien, ons het al méér as net Kurt Darren, toneelstukke, die MK-tente en tannies sonder bra's in Baron van Reede gesien.
Ons mís nie uit nie.

Ons was al in die middel van die nag op Calitzdorp om te gaan beproef hoe warm die warmbaddens daar wérklik is.
Ons is al na 'n smokkie geneem waar Die Generaal 'n arme dwerg wat op die voorstoep van genoemde smokkelhuis waghou, wou kaap.
Ons was selfs verlede jaar op Dysselsdorp waar Helen Zille vir Koekieloekie gesing het. (Okei, dit was vir werk.)

En vanjaar, toe ek aanvanklik hoor Die Generaal kan weens werkverpligtinge nie kom nie, was ek vir 'n wyle depressief.

Hoe gaan ek dit oorleef sonder hom? (Terloops, hy's nié my burc nie. Ek hou nie die skinny-jeans-tipe nie.)

Maar daai selle dag het Die Generaal hier aangedoen in sy skinny-jeans. Nat gesweet van die pad, maar met 'n glimlag. En ons het kort daarna ons eerste Jägermeisters afgesluk.

So vir 2011: Ek gaan weer nie kom nie (Ja, ek gaan).

Ek gaan maer raak vir die fees (Nee, ek gaan nie).

En ek gaan definitief die Toeter op my waterskoeter-mansmens 'n PK gaan gee.

* Koop elke dag die Krit-feeskoerant vir al die nuus oor die KKNK.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.