www.jip.co.za

Jong Titan op 'n roll

Keep it simple -- dis die geheim, sê Theunis de Bruyn, matriekleerling van die Hoërskool Menlopark in Pretoria.


Die jong Titan het krieketliefhebbers oor die land heen verstom met sy reuse-telling in die eindstryd van die SA o.17-kriekettoernooi op Grahamstad tydens die somervakansie: 269 in 38 boulbeurte - en dit teen die Vrystaat, ‘n span wat jy nie durf onderskat nie. Northerns het uiteindelik 380 lopies aangeteken "en toe wen ons maklik".


Die 17-jarige Parkie, wat gewoonlik op nr.3 of 4 kolf en ook ‘n steady off spinner boul, is na die Cubs-week op Stellenbosch twee weke later in die SA o.17-span opgeneem. Hy is een van die min ouens in die squad wat jonk genoeg gaan wees vir die 2012 o.19-Wereldbekertoernooi in Toronto, Kanada.


Dit was geen verrassing dat Theunis na die Grahamstad-week as die Speler van die Toernooi aangewys is nie. Benewens die 269 het hy onder meer 138* teen KZN Coastals en 44* teen Grens aangeteken en altesaam 483 lopies in die week opgestapel. Daarby het hy in albei die Titans se Pro20-games 2 belangrike paaltjies ingeoes. Teen Gauteng (op dag 3) is hy vir ‘n nulletjie uitgehaal in die enigste game wat Northens verloor het. Maar, sê Theunis, toe het hy geweet, die een keer wat hy gaan fail is nou agter hom. "Toe kon ek fokus op die volgende game. Ek het dit baie vinnig uit my sisteem uitgeskakel."


Oor sy droombeurt teen Vrystaat, toe hy in die tiende beurt ingestuur is, sê hy: "Die Titans was vroeg in die moeilikheid. Ek het besef ek gaan vandag moet lopies maak dat ons kan wen. En dis toe dat ek die 269 geslaan het. Maar ek het nie verwag ek gaan SO bat nie.


"Ek onthou toe ek op 150 gestaan het, het ek 105 balle geface. En my volgende 119 het ek van 30 balle geslaan - ‘n gemiddeld van 4 per bal."


Sy eerste drie balle daardie Vrydag was almal cover drives vir 4. "Dit was net goeie houe. Ek het nie gaan soek vir iets wat nie daar was nie. En so het die hele innings gegaan. Ek kon letterlik doen wat ek wou.


"Ek het op ‘n stadium die ouens begin jammer kry en houe begin speel wat my gewoonlik laat uitgaan, maar dan gaan hulle nog steeds vir 4. Ek het selfs op die ou end die quick ouens begin reverse sweep."


Hoewel hy dit pitch as "maklik" bestempel en die buiteveld vinnig was, kon geen ander kolwer in die eindstryd 50 lopies aanteken nie. "Dit kan ek nie verstaan nie," se hy.


Een ding staan vas: hy gaan daardie beurt nooit vergeet nie. "So ‘n innings kom once in a lifetime," glimlag hy.


Die Cubs-week twee weke later is die breinkind van die SA o.19-coach, Ray Jennings, wat vroeer ook die Proeteas afgerig het. Die junior spanne van al die franchises spook sake uit waarna ‘n SA span van 13 man aangewys word. Ook hier was Theunis die Speler van die Toernooi en die Titans die kampioene. Net die o.19-Wereldbekerspan van Zimbabwe kon die manne van die Noorde klop.


Fiksheid is deurslaggewend. Hy oefen al "vyf, ses jaar" by die fiksheidinstrukteur Jolene Kamfer. "Sy werk baie op hand-oog-koordinasie, gemeng met fiksheid," sê Theunis. "Sy leer ons as jou liggaam moeg is, kan jou brein nog steeds focus om te kan doen wat jy wil doen. Soos die 269 - ek moet kan bly konsentreer. Al voel ek moeg, kan my brein steeds die regte dinge doen."


Nog ‘n belangrike aspek van sy game is sportsielkunde, wat hy by Wim Slabbert doen. "Hy leer my hoe die onderbewussyn werk en om negatiewe dinge in ‘n positiewe ding om te skakel. Sê ek gaan deur ‘n slegte patch in my kolfwerk, dan sit hy my ‘n bietjie onder hipnose en trek al daardie negatiewe goeters uit. Die volgende keer as ek gaan bat, dink my brein glad nie meer: ‘Jy's die vorige keer so uitgehaal, moet dit nie weer probeer nie'."


Hy verduidelik hoe hy ‘n negatiewe ding positief maak: "Byvoorbeeld, ek is nie gekies vir die o.19-span (vir die Khaya Majola-week in Benoni) nie, wat ‘n groot disappointment was. Volgens almal moes ek daar gewees het, maar daar was ‘n klomp politiek by die selection. Ek het dit glad nie in ‘n negatiewe lig beskou nie. Ek het gesê: OK, ek gaan hulle verkeerd bewys. Ek gaan my kanse gebruik. En toe slaan ek nasionale records - die meeste lopies op ‘n week en die meeste lopies in ‘n game."


Sy doelwit is om vanjaar die SA o.19-groep te haal wat einde vanjaar in Engeland of Australie gaan toer. Hy wil nie net span maak nie, maar ook topprestasies behaal. "Obviously wil ek ook baie lopies maak vir die skool en 5 onderskeidings kry." Na matriek wil hy CA (geoktrooierde rekenmeester) by Tuks gaan swot.


Hy vergelyk sy kolfstyl met die van die Aussie Matthew Hayden. "Ek het ‘n baie goeie tegniek. Ek is ‘n dominerende kolwer. Maar as ek na iemand kyk wat ‘n krieketbrein gehad het, is dit Hansie Cronje. Ek het baie sy tipe persoonlikheid. Ek wys nie baie emosie nie, ek is ernstig en gefokus op wat gedoen moet word. Maar ek is nog steeds lief vir my spanmaats, al is ek ‘n bietjie individualisties. Ek sal altyd alles gee vir my span."


 


Theunis se favourites


Musiek: Ek like Afrikaanse musiek. Die Heuwels Fantasties is baie nice. Ek hou daarvan om Day & Night te luister voor ek gaan bat. Ek hoef nie eens meer ‘n ipod te dra nie, die beat is al so in my brein, dit kom al vanself. Mense sal seker lag, maar ek like vir Abba baie.


Movies: Groot. Baie. Dit wissel van comedy tot heavy action en oorlogmovies. Soos Behnind Enemy Lines, daai tipe movies. Comedies soos Stepbrothers en Hangover en al daai goeters. Ek like ook movies gebaseer op ware verhale, soos Hansie of Titanic.


Kos: ‘n Groot steak. 500 plus. Medium-rare.


Vakansieplek: Die natuur doen die ding vir my. As ek bosveldplaas (net anderkant Thabazimbi) toe kan gaan, is dit number one. My grootste hobby is om te jag. Ek like dit amper meer as om krieket te speel. Ek is ‘n fanatiese jagter.


Grootste jagtrophy: ‘n Koedoebul. ‘n Mooie. My pa het my belowe as ek 18 word, vat hy my om ‘n buffel te gaan jag in Tanzanie.


Hero: Ja, dit was Tiger Woods, maar... Ek sal nog steeds sê Tiger Woods as ek kyk hoe hy gholf speel. Ek het ook daai fighter instinct in my. Ek like ook om heavy te kompeteer, selfs in ‘n kaartgame. Ek haat dit om te verloor. Ek raak heavy gemotiveer. En dan, Roger Federer.


 


 


 


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.