www.jip.co.za

Jacob die rêrige held

My naam is Carryn-Ann (hallo Carryn) en ek is verslaaf aan Twilight.
Oukei, nee. Nou praat ek louter strooi.

Dis définitief nie Bella nie. En nee, dit sal nooit Edward wees nie.

Ek het bietjies-bietjies in my mond gekots toe ek hoor dié aap het nou sy eie handskrif op die mark. So asof meisies briewe aan hulself gaan skryf, en met Love Always, Your Robert, gaan afsluit.

En nee, die hele vampier-teen-weerwolf-fantasie is vir my net té Hollywood, so dis definitief nie die storie wat my boei nie.

Dis Jacob.

Die tiener met die goue borskas en wit tande aan wie ek verslaaf is. Vir mý, " It has always been Jacob ".

Nou, ek gee toe dat - !!!!Spoiler alert!!!! - Edward en daai vroumens happily ever after gaan wees. Whoop-tie-doo. Maar ek kan net nie dink waarom almal so behep is met Edward Cullen/Robert Pattinson nie. Nie terwyl daar 'n jonger en pragtiger spesie is nie.

Eerstens, Edward is 'n vampier. Hy's dalk nie so scary looking soos Count Dracula nie, maar hy drink bloed. En hy kan nie slaap of eet nie. Ek hou nogals van my Sondagmiddagslapie voor 7de Laan en jy kan dúidelik sien ek hou van kos.

Tweedens. Edward lyk vir my soos 'n meisie wie se lokke afgesny is. Hei, dís dalk hoekom sy hare altyd so perfek is. Ek is jammer, maar ek kan nie my toekoms insien hoe ons soggens saam voor die spieël haarprodukte gaan uitruil nie.

Derdens. Edward is 'n koue mens. Letterlik en figuurlik. Benewens die feit dat hande vashou in Woolies nie saam met hom gaan uitwerk nie, het hy 'n afdwingende ek-weet-van-beter-houding. Hy praat binnensmonds, só erg dat ek van die DVD's telkemale moes stop en rewind om te hoor wat hy sê.

Daarteenoor is Jacob warm. Letterlik en figuurlik.

Vierdens. Jacob help Bella om haar kar reg te maak. Hy gee om vir Bella. Hy kyk met sagte oë na Bella en byt sy lip wanneer hy met haar praat. Edward kan nie eens lag nie.

Vyf. Jacob mág maar vir altyd kaalbolyf lewe. Edward nie. In fact, as Edward sy hemp uittrek begin hy sparkle. Watter mansmens sparkle?

Ses. Jacob het 'n seunsagtigheid aan hom. Hy hardloop, spring en slaap, maar weet terselfdertyd ook hoe om knieë lam te maak. Hy dink nie hy's beter as die res soos die Cullens nie. Hy dwing homself nie af op Bella nie, hy dring nie daarop aan om haar lewe te regeer nie, hy wil haar nie doodmaak nie.

Wat my by my laaste punt bring.
Edward is reeds dood. Jacob lewe nog.
Mag ek nou maar sit?



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.