www.jip.co.za

Is Smit nog goed vir die Bokke?

Tot onlangs het ek gesê solank as wat Bakkies Botha John Smit se borselkop vryf nadat hy iets waffers in 'n Springboktrui gedoen het, sal ek gemoedsrus hê oor Smittie se plek in die nasionale span.
Maar toe gaan die Bokke Europa toe, en die ratkas van dié se skrum loop pak heeltemal op teen twee klubspanne, Frankryk en Italië. Maar die trutat werk nog!

En hoewel dit onwerklik voel om oor Smit se eerbare uittrede te praat, moet 'n mens begin wonder of sy hoog aangeskrewe leierskap nie stadig maar seker die Bokke aan hul fênsie Canterbury-truie begin aftrek nie.
Die vaskopstut-lewensboei is deur ene Snorre Div aan Smit gegooi nadat dit duidelik geword het dat Bismarck du Plessis 'n meer effektiewe haker as hy is.

Bissie skrum sterk, hy gooi ordentlik by lynstane in, hy is geweldig fisiek, en skroom ook nie om á la Brüssow 'n losbal van sy teenstanders te vervreem nie.

Maar sedert die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus vroeër vanjaar is die Bokke se swak skrum 'n besprekingspunt wat Kobus Wiese in 'n diep skakering van varkiepienk laat uitslaan wanneer hy daaroor praat. En in hierdie debat staan Smit senter-mister-venter.
Want oor minder as twee jaar in Nieu-Seeland is die William Webb Ellis-beker weer op die spel.

En as 'n mens daardie passievolle land se passievolle wolke in ag neem, is 'n stewige skrum nie iets wat net effentjies oorweeg moet word nie.

Nadat BJ Botha (met Smit op haker) die afgelope naweek teen Italië weer stabiliteit in hierdie faset verseker het, kan 'n mens met groter sekerheid 'n paar dinge kwytraak. Botha is tans ons beste Springbok-vaskopstut, en Smit is 'n beter haker as vaskop.
Maar Vattie-twakkie-Bissie is 'n beter haker as Smit, en daarom moet laasgenoemde se kapteinskap teen Du Plessis se spelpeil opgeweeg word.

Voeg daarby dat Smit met die volgende WB-toernooi al 33 jaar gaan wees en sy volhoubare vermoëns as skrumwerker kry 'n al groter vraagteken.

Os du Randt het egter sy tweede beker op 35 gewen, maar hy was onomwonde in 2007 ons beste loskopstut.
Toe Francois Pienaar in 1995 die seëvierende Bokke aangevoer het, het sy leierskap straks meer as spelpeil getel, want Tiaan Strauss van die WP is toe as die beter speler gereken, maar was nie eens in die WB-groep nie.

Maar wat as Smittie einde vanjaar vir Springbok-rugby koebaai sê? Wie is daar om hom op te volg?
Toe Jake White hom destyds as kaptein aangewys het, was een van die hoofredes oënskynlik oor hy as 'n Nataller neutraal sou staan in 'n span wat baie maklik deur botsende persoonlikhede uit die noorde en suide oordonder kon word.
Maar tans is daar nie 'n Leeutjie, Cheetah of Piesangboer wat ganse land agter homself sal kan snoer nie.

En dit laat ons onder andere met Victor Matfield. Hy gaan met die volgende Wêreldbeker-toernooi 34 wees, maar het onlangs gesê dit is nog een van sy doelstellings.
Maar nadat die Blou Bulle "Kaptein, span die seile" vir Matfield gedeps het, is daar nie tans 'n groter ‘gees uit die noorde' as dié hemelbesem nie.

En omtrent dieselfde geld die wêreld se beste skumskakel, Fourie du Preez.
Hy't glo voor Frans Ludeke se eerste oefening met die Bulle, hom só verwelkom: "Kyk, hier werk dinge só," en hom die vriendelike leviete voorgelees.
En 'n mens kan dit verstaan, want by hierdie unie heers 'n besonderse kameraadskap en kultuur van sukses wat weinig op ander plekke te bespeur is.
Maar dit kan baie maklik 'n kultuur van uitsluiting in die Bok-kamp veroorsaak as dit die kaptein se verwysingsraamwerk is.

Fourie is egter nou eers 27, en van al die moontlike kandidate is hy al een wat in 2011 nog vandag se kind gaan wees.
Uit die suide in Jean de Villiers (28) 'n opsie. Maar hy speel tans in Ierland, en solank as wat Snorre glo Adi Jacobs is "goed genoeg" en daarom by sy kies-eerste-plaaslik-beleid gaan hou, gaan Jean die binnekort weer die Groen-en-Goud dra nie.

Wat Smit dus Saterdag teen Ierland gaan doen, gaan van groter nasionale belang wees as die totale Europese toer - wat 'n flop der floppe blyk te wees.
Want oor sy kapteinskap twyfel ons nie, maar hier in Suid-Afrika hou ons van ons skrum as hy vorentoe gaan. En om dan bekers te wen.


 



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.