www.jip.co.za

Gryp ’n trompet en ’n bal

Ek was 'n laaitie toe die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 na Suid-Afrika gekom het.

Hoewel ek dit nie geweet het nie, was die land op die rand van 'n afgrond. Om elke hoek en draai het 'n burgeroorlog gedreig en rassespanning het van ons reënboognasie 'n two-tone-nasie gemaak. Vyftien jaar later word boeke oor dié geleentheid geskryf, Hollywood maak flieks van die storie, en Suid-Afrikaners praat nou nog met 'n glinster in die oog oor hoe die land 'n oomblik meer soos 'n land as soos 'n landmyn gevoel het.

Oor 'n paar dae kry Suid-Afrika weer so 'n geleentheid. Hierdie een gaan net 'n duisend keer groter wees. Met die rugbytoernooi sou die meerderheid swart mense nie 'n span ondersteun waarin net arme Chester Williams soos hulle gelyk het nie. In daai tyd was rugby nog die wit man se sport. Soos die Bulls egter onlangs in die Orlando-stadion gewys het, is dit nie meer die geval nie.
Sokker was egter nog altyd die sport vir die gemiddelde ou op straat. Van die eerstewêreld tot die derdewêreld is die sokkerbal die simbool vir sport.

Om die een of ander rede is sport een van die min goed wat mense van uiteenlopende agtergronde bymekaar kan bring. Dis asof sportsterre vir die kort tyd wat hulle op die veld is, namens die res van ons bloei en sweet en mekaar verrinneweer. En ons, die rasende massas op die kantlyn, kan 'n oomblik die ingewikkelde probleme vergeet wat ons almal in die gesig staar, en ons aandag op die eenvoudige uitkoms van die spel fokus. Dis 'n aandagafleier, net soos 'n episode van 7de Laan, behalwe dat die spelers groter en gevaarliker as Matrone is.

Ek het onlangs in sokker begin belangstel en besef hoe maklik dit is om die reëls te begryp. Maar selfs as dit te veel moeite is, is die minste wat ons kan doen, om positief oor die toernooi te wees.
Baie mense wens eintlik dit flop, want dan kan hulle uiteindelik vir die res van ons wat in die droom glo, sê: "Ek het julle mos gesê!"

Daar is al oor en oor voorspel dat die land uitmekaar gaan val en dat die inwoners mekaar gaan uitmoor. Tog, hier sit ons nog. Niks is perfek nie, maar dit gaan al beter. Ons moet onthou dat die res van die wêreld dink Suid-Afrikaners is 'n klomp gewelddadige barbare wat op vuvuzelas blaas.

Ek dink ons kan werk aan die deel oor "gewelddadigheid" en "barbare", maar oor die vuvuzela is hulle heeltemal reg. En as dit 'n plastiektrompet en 'n sokkerbal kos om ons weer mekaar te laat omhels, dan is dit genoeg.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.