www.jip.co.za

Griffons kan trots wees ná hul terugvegpoging

Welgedaan! Bravo!

Nie net het die Griffons een van die bes georganiseerde toernooie in die geskiedenis van die prestigeryke Cravenweek in die Noordwes-stadion hier aangebied nie, maar die unie se span was een van die spanne wat van die aanskoulikste rugby gespeel het.

Hoewel nie een van die spelers na afloop van die week in die nasionale skole-span ingesluit is nie, en die span slegs in een van sy drie wedstryde aan die wenkant was, is daar heelwat van die spelers in die span wie se name nie deur ondersteuners vergeet sal word nie.
Spelers soos Ryno Venter (losskakel), Mario Noordman (skrumskakel), Cloete Wessels (flank en kaptein), Niel Neethling (heelagter), Buran Parks (losvoorspeler) en Pierre Botes (stut) kan nog in die toekoms vir hulself op die rugbyveld naam maak.

In hul eerste kragmeting teen Oostelike Provinsie Platteland het die Griffons 'n spannende wedstryd met 'n telling van 28-25 deurgetrek, ná die span op 'n stadium met 0-22 agter was.

Parks was sy span se beste speler in hierdie wedstryd.

Hy het die drie gedruk wat die vonk vir die Perses se terugvegpoging verskaf het.

Hy het ook met 'n breekslag sy span se volgende drie aangevoer.

In die tweede wedstryd, wat een van die aanskoulikste wedstryde op die Cravenweek was, het die Griffons met 34-36 die knie teen Boland gebuig. Venter het sy doelskop ná die die sirene skeef gekorrel. As dit deur was, sou die telling gelykop gewees het. Die Perses moes nooit die wedstryd verloor het nie. Botes, Venter en Jaco Enslin was op die dag hul span se beste spelers.

Boland het KwaZulu-Natal in die vernaamste voorwedstryd op die laaste dag met 49-23 verslaan. Die Wynboere het met dié oorwinning verseker dat slegs hulle en die nie-amptelike kampioen, Vrystaat, die week onoorwonne afsluit. Die Piesangboere het die Vrystaat op die tweede dag hoofbrekens besorg, maar die knie uiteindelik met 20-30 gebuig.

Dit bewys elke speler van die Perses kan sy kop omhoog hou.

Die Griffons het in hul laaste wedstryd met 7-29 teen Griekwas verloor. Die span kon 'n beter vertoning opgedis het, maar sy dissipline het hom in die steek ­gelaat.

Beste oomblik: Die terugvegpoging in die eerste wedstryd teen OP Platteland.
Beste voorspeler: Buran Parks.
Beste agterspelers: Ryno ­Venter en Jaco Enslin.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.