Ek is ‘n 19 jarige student, met ‘n 1 jaar oue lisensie en 25 jaar oue kar - ‘n Mazda 323 (nou nie juis ‘n sportmodel nie.)
Sien liewe leser, ‘n spoedvraat is ek nie juis nie. Veral op die grootpad is ek nooit bang vir spoedboetes nie, grotendeels omdat my kar nie 120km/h kan haal nie. Ek reis egter gereeld op die N1 en dit is juis hier waar die popo die fan(belt) strike.
Groot is my verbasing toe my pa (effens benoud) bel en sê daar het ‘n spoedboete vir CJ 11448 aangekom. Ek sê: "Nee". Hy sê: "Ja." Ek sê: "Kan nie wees nie." Hy sê: " Dit is". Ek vra: "Hoeveel?". Hy sê "R800". Bloedgeld.
My kar se topspoed, 104 km/h (in ‘n 60km/h sone) het hierdie boete vir my besorg. Vir my eerste en laaste spoedboete is ek darem bly hulle het my kar op sy beste afgeneem. Sien hier by 105 km/h ondergaan my kar ‘n gedaanteverwisseling. Hy begin rittel en ruk, vir die passasiers voel dit op hulle op een van daardie Glomail oefenmasjiene is wat alles laat dril. Die paar sente wat ek het klingel entoesiasties voor in die kar - dit klink soos Kersfees.
Ek begin planne beraam. Ek hoop die Verkeersdepartement sal my toelaat om in paaiemente van R20 my boete af te betaal. Ek lewer my pleidooi aan hulle en verduidelik my armsalige situasie in ‘n amptelike brief. Ek is baie optimisties en verwag om binnekort van hulle terug te hoor.
Intussen moet ek steeds weekliks op die nare pad reis, maar ek is nou ‘n ander tipe motoris. As die bordjie sê 60, dan ry ek 50 - net om veilig te wees. Ek vertrou in elkgval nie ‘n 25 jarige odometer nie.
My groot hoofpyn is egter die padwerksone, waar ek gevang is, op die N1. Tot net voor dit ry ek gemaklik 104km/h maar wanneer ons oorgaan na net een baan begin ek solank bid vir die motoriste wat agter my ry . Ek bid vir geduld en ‘n liefdevolle gemoedstoestand. Sien, met die pad skort daar niks, dit is ‘n oop en reguit, nuut geteerde pad. So om by 60km/h te hou is maar ‘n uitdaging. Met ‘n boete van R800 agter my naam is ek egter die een motoris wat wel by die spoedbeperking hou.
Jy kan my en my liewe Mazda nou maar met ‘n badprop vergelyk. Nie sommer enige badprop nie, nee ‘n lekker vet, rubber padprop. Sien as jy die water uit die bad laat tap loop dit vrylik en vinnig deur die gaatjies, maar sodra daai badprop daar gaan vassit kan jy maar vergeet van enige water om daar verby te kom. So middae sal jy my (die badprop) en die ander motoriste (die badwater) op die N1 kry en laat ek vir jou sê, dan loop die gemoedere hoog. Daar is egter net een baan in gebruik so die heen en weer ry agter my om te kyk of daar nie dalk ‘n spasie is waar hulle my kan verby vat nie werp nooit vrugte af nie.
Vir ‘n kilometer agter my is daar ‘n string karre, dit lyk soos ‘n begrafnis stoet. Ons beweeg teen ‘n statige 60km/h. My mede padgebruikers dink vuil gedagtes, hulle dink aan die "baseball bats" in hulle kattebakke en aan hoe my kar ooit sy padwaardigheids toets kon slaag. Nie een is dankbaar vir die gewisse boete waarvan ek hulle spaar nie.
As jy dink dit is ‘n petalje om te aanskou, dan moet jy sien hoe dit lyk as die paar kilometers van padwerke verby is en ons het weer 2 bane tot ons beskikking het. Uit die aard van die saak gaan ek dan onmiddelik oor na die linkerbaan want met ‘n topspoed van 104km/h dink ek nie juis die regterbaan is vir my gereserveer nie. My medereisigers kom dan verby gesnel, en nie een ry verby voordat hulle eers hulle nekke gedraai het om te kyk wie is die aap wat so hulle tyd mors (en geld spaar) nie. Die hele stoet vat my verby.
Voor ek my kan kry is dit tyd vir die tweede padwerke stuk. Selfde storie. Selfs die bejaardes agter my raak frustreerd en na die tyd kry ek ongeskikte kyke vanongeloof, veral van hulle.
Deesdae neem dié rit my maklik‘n halfuur langer maar met hoë opgelope uitgawes teen my naam is ek maar versigtig.
Wanneer jy my dalk op die pad gewaar, glimlag eerder vriendelik vir my... en die spoedkamera.