Wanneer fantastiese geluide jou ore bombardeer en jy met groot, blink oë na jou held kyk (wat natuurlik in jou gedagtes jou toekomstige man of vrou is) en die reuk van sweet, asem en genot jou neusvliese brand, tref die straal bier jou en bring dit jou vinnig terug aarde toe, na die harde werklikheid van tienerwees.
Dit is dan wanneer jy weet die live show-gogga het jou gebyt!
Hoe jou begeerte om só te lewe begin het, is sekerlik 'n eenvoudige vraag.
Talent scouts, Rockspaaider, YouTube . . . Kompetisies kan jou lewe mos in 'n oogwink verander en jou kitsroem-status gee.
Fame is the name of the game, and I'm gonna live forever . . . dit is wat ons almal glo.
Ongelukkig maak net die heel bestes dit tot bo.
Fokofpolisiekar is 'n goeie voorbeeld. In die begin het kritiek ingestroom, hoofsaaklik weens hul uitgesproke lirieke.
Die aandag van die media en die publiek het natuurlik ook gesorg dat hulle op die map beland en dat Suid-Afrika se jeug van FPK se bestaan weet . . . kits-roem.
Dié legends werk deesdae vreeslik hard.
Jy kan maar net opnoem en hulle is betrokke by die een of ander band of produksie - Die Heuwels Fantasties, aKING ,Van Coke Kartel, die VanFokKingTasties-shows, en so kan ek aangaan.
Ná die live shows kom die CD's, en dan begin die gehoor se lippe saam met joune beweeg as jy op die stage is.
Vir alle tieners is dit natuurlik 'n groot stryd om hul ouers te oorreed om na een van hierdie shows te gaan, maar natuurlik kan jy dit nie deur jou vingers laat glip nie.
Jy is mos nou die groep se ultimate fan.
Die gogga het gebyt, die infeksie het versprei, en die siekte gaan jou nie vinnig los nie. Jy is 'n live show fan, en eendag as jy oud is, sal jy die memories koester. Diep binne jou weet jy jy was daar.