JIP se redaksie het gesê ek kan oor enige iets skryf in my rubriek. Ek kon nie dadelik aan enige iets dink wat ek voel ek moet skryf nie en ek kyk toe in die HAT of ek enige iets daarin kry, maar sonder geluk.
Terwyl ek so sit en dink aan enige iets val dit my op dat ek nie regtig seker is wat presies is enige iets nou rerig nie. Is dit iets wat mens kan eet, drink, rook of ry?
My ouers het al soveel gaste onthaal wat enige iets wil hê om te drink. My ma is altyd lus vir enige iets lekker na 'n ete. My vriendin rook enige iets wat haar begroting haar toelaat. Ons buurman is besig om te kyk vir enige iets waarmee sy seun volgende jaar kan ry by die universiteit. Party mense luister na enige iets van pop tot jazz. Ek skryf graag in my vrye tyd sommer stukke oor enige iets.
Dit het my getref dat enige iets werklik enige iets is.
As ek nou aan enige iets moet dink wat vir my vreemd is is dit dat mense praat van hare sny. 'n Mens sny met ‘n mes en knip met 'n skêr. Jy sal dus jou hare nie laat sny nie maar laat knip.
Nog iets vreemd wat my bygeval het tydens my besoek in Nederland is toe ek vra of iemand nog koeldrank soek. Hulle het dadelik vir my gesê dat ek nie die koeldrank hoef te soek nie, dit is in die yskas.
Daar is min dinge wat ek vir seker weet maar as ek enige iets kan uitsonder is dit dat wanneer ek in die kortste ry in die supermark gaan staan, die ry altyd as die langste ry eindig. Daar is nie nog enige iets wat my nou byval wat jou lewe binne die volgende week drasties gaan verander nie. Gaan doen nou maar enige iets anders.
Dit is vir my 'n voorreg dat ek regtig enige iets met my lesers kan deel. Tot volgende keer.