www.jip.co.za

"Ek's anders": Gay-tiener-wees

Om ’n tiener te wees is nogal moeilik, veral met hormone en emosies wat die heeltyd partytjie hou in jou lyf. Vir sommige tieners is dié tyd van hulle lewe selfs nog moeiliker, omdat hulle agterkom hulle seksuele gevoelens is ‘anders’ as hul vriende s’n. RIËTTE GROBLER het met kenners gesels oor gay-tiener-wees.

Hormone laat alle tieners se emosies wipplank ry en dit beteken álle tieners, gay of straight, het dieselfde soort ervarings as dit by seksuele ontwaking kom, sê die seksuele gesondheidsvoorligtersuster Ruth Loubser.

Dit beteken ook alle tieners het feite en inligting nodig om sin te maak van wat met hulle gebeur.

Groot fisieke veranderinge; die ontwaking van seksuele gevoelens; veranderende vriendskappe en die behoefte om in te pas by jou portuurgroep is drie groot faktore as dit by die vorming van tieners se seksuele identiteit kom, sê sy.

"Die meeste tieners pas maklik by dié dinge aan, maar as tieners ‘anders' voel as hul klasmaats oor wat met hulle gebeur, kan hulle angstig raak oor hul seksuele identiteit," sê sy.

As jy 'n seun is, begin die ander ouens in jou groep dalk praat oor meisies, terwyl jý dalk besef jy het gevoelens vir een van jou seuns-vriende.

"Dit laat tieners wonder: Wie is ek en waarom voel ek anders? Sal ek aanvaar of verwerp word? Waar sal ek aanvaarding vind?"

Naudé van der Merwe
, wat in gr.11 vir 'n vriendin vertel het hy is gay en ná skool vir sy ouers gesê het, vertel dit het aanvanklik vir hom gevoel dis onmoontlik om met iemand te praat.
Die een goeie vriendin wat hy op skool vertel het, het hom egter deur dik en dun ondersteun en toe hy ná skool sy ouers vertel het, was hulle ook ondersteunend.

"Ek dink dat as jy op skool nie reg is om dit vir die hele wêreld uit te blaker nie, is dit goed om 'n vriend of vriendin te kry wat jy kan vertrou," sê hy.

Cornél de Lange is in matriek in 'n Gautengse skool.
Hy sê die gesonde mentorskap en Christelike grondslag wat hy by Die Kapel, 'n kerk vir gay mense in Melville, Johannesburg, gekry het, het hom baie gehelp om sin te maak van sy lewe.

"Maak seker jy beweeg in die regte kringe en leer die regte gewoontes aan," sê hy. "Die gay lewe hoef nie 'n promiskue, donker ding te wees nie."

Interne konflik en skaamte

Omdat die samelewing 'n spesifieke prentjie voorhou as die "regte" een, is dit vir tieners wat van hul homoseksualiteit bewus begin raak, soms baie moeilik om daarmee vrede te maak, sê Philip Liebenberg, pastoor van Die Kapel-kerk in Johannesburg.
Hy kry dikwels e-pos van tieners wat sê hul pa gaan hulle doodmaak as hulle verneem die seuns is gay.

Delene van Dyk, 'n berader by OUT, die ondersteuningsorganisasie vir gay, lesbiese, bi- en transseksuele mense, voeg by: "As 'n gesagsfiguur soos 'n ouer vir die kind vertel gay-wees is verkeerd, of dat gay mense gestraf gaan word vir hul dade, gaan kinders wat homoseksuele gevoelens ervaar, aanvanklik - en dalk vir altyd - aan hulself twyfel."

Kevin Boshoff was eers op 20 daarmee gemaklik om mense te vertel hy is gay. "Wat vir my baie moeilik was, was dat ek gedink het daar is iets fout met my, asof ek 'n mislukking was," sê hy.

Volgens Liebenberg gaan 'n geheim oor jou seksualiteit met vrees en isolasie gepaard.
Hy waarsku ouers om nie hul gay kinders te probeer verander nie. "Jy gaan 'n gemors maak van 'n gay kind as jy hom of haar probeer verander. "

Om vir mense te sê
Een van die grootste kwessies waarmee jong gay-mense worstel, is om vir ander mense te vertel, sê Van Dyk. Dan moet hulle ook nog besluit wie hulle met die inligting gaan vertrou.

Van Dyk sê die impak van "uitkom" hang af van 'n paar faktore: die manier waarop jy grootgemaak is; jou geloofsoortuigings, dié van jou ouers en jou ouers se ingesteldheid.
"Party mense kom nooit uit nie en dit is hartseer.

Maar al wil ons hê mense moet trots wees op hul seksualiteit, wil ons ook nie hê hulle moet op seepbokse klim en hul vuiste swaai as hulle nog nie daarvoor gereed is nie.
As tieners nog nie 18 is nie, is hulle steeds van hul ouers afhanklik," sê sy.

Mense se omstandighede verskil en daar is nie net een manier om die mense vir wie jy lief is te sê jy is gay nie, sê Liebenberg.

"Wanneer jy so iets probeer wegsteek verwag jy die slegste van mense, maar ek was al 'n paar keer verras oor hoe mense die situasie hanteer," sê Ryno Ellis, wat op 16 vir sy ma en beste vriendin vertel het hy is gay. Hy was egter eers op 19 gemaklik om vir ander mense te vertel.
Wanneer jy persoonlike inligting soos dié met mense wil deel, sê Liebenberg jy moet 'n paar dinge in gedagte hou:
* Jy moet absolute vrede met jou seksuele oriëntasie hê.
* Jy moet 'n veilige en betroubare vangnet hê.
* Jy moet iemand vertel wat "veilig" is. Iemand wat jy vertrou en wat jou baie lief het, omdat jy 'n kans waag deur hulle te sê.


Wat is wat?
Heteroseksueel: As jy emosioneel en seksueel aangetrokke voel tot mense van die teenoorgestelde geslag ('n meisie wat van ouens hou, of 'n ou wat van meisies hou).
Homoseksueel: Wanneer jy seksueel en emosioneel aangetrokke voel tot mense van dieselfde geslag. Dit is gay mans en lesbiese vroue.
Bron: www.out.org.za.

Met wie kan ek praat?
As daar dinge is waaroor jy twyfel, of as jy iemand nodig het om mee te gesels, kan jy by onder meer dié plekke aanklop vir hulp.
OUT: Dié organisasie sonder winsbejag se webwerf, www.­out.org.za, bevat talle interessante en insiggewende brosjures. Jy kan hulle ook bel by 0860 688 688. Daar is altyd 'n berader aan diens en hulle kan jou selfs terugbel.
 Die Kapel: Al is die kerk in Johannesburg, kan jy e-pos stuur aan pastoor Philip Liebenberg by philipl@vodamail.co.za, of besoek hul webwerf, www.thechapel.ws.

Daar is talle ander hulpbronne op die internet en jy kan ook by jou skool se sielkundige aanklop.



www.jip.co.za © Copyright 2009 - All rights reserved.